Vier ontsnaptes weer vas

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Vier mans is weer in hegtenis geneem nadat hulle vroeër vandeesmaand polisiebeamptes in Noordwes oorweldig en uit aanhouding ontsnap het. Vyf van die ontsnaptes is egter steeds op vrye voet.

Lede van die gemeenskap het Donderdag die polisie in Pudimoe in kennis gestel dat ʼn paar van die ontsnapte mans in Myra rondhang.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in die provinsie, sê die polisie het op die inligting gereageer en daarin geslaag om Thabo Pita (24), Thabo Edward Bankies (31), Lekhoa Methola (44) en Thabo Aaron Mokwena (46) weer in hegtenis te neem.

Dié vier het op 12 November saam met vyf ander mans uit die Pudimoe-polisieselle ontsnap nadat hulle die beamptes hiér oorweldig het.

Drie van die mans wat weer in polisieaanhouding is, is van Lesotho, terwyl een ʼn Suid-Afrikaner is.

Pita en Methola is ten tyde van hul ontsnapping as ongedokumenteerde mense aangehou wat wag op uitsetting, terwyl Mokwena en Bankies onderskeidelik teregstaan op aanklagte van roof, aanranding en poging tot moord.

Die vier sal na verwagting Maandag in die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn.

Intussen is die polisie nog steeds op soek na die ander vyf ontsnaptes: Lebajwa Raphael Sewete (29), Refuoe Zwakala (30), Lebogang Makume (31), Isaac Polanka Ramotsapi (35) en Thabiso Bereng (34).

Aanklagte van roof en aanranding staar Makume in die gesig, terwyl die ander vier onwettig in die land is en binnekort gedeporteer moet word.

“Die polisie werk onophoudelik om die oorblywende vyf op te spoor,” sê Mokgwabone.

“Die omstandighede rakende die nege mans se ontsnapping word steeds ondersoek.”

Die polisie doen ʼn beroep op lede van die publiek om hulle te nader met enige inligting wat tot die opsporing van die ander vyf verdagtes kan lei. Mense kan die hoofondersoekbeampte, sers. Zwelinzima Ngwenya, by 082 373 7194 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Diline

Hierdie onwettige immigrante is maar ‘n druppel in die emmer van hoeveel regtig in die land is. Hulle is die wat kriminele dade pleeg want hulle word nie maklik opgespoor nie. Regering moet daadwerklik iets doen om ontslae te raak van al die miljoene wat onwettig in die land is. Dis vandat hulle die land binne gekom het dat misdaad handuit geruk het. Glo my, so vinnig as wat hulle gedeporteer word, so vinnig is hulle weer terug. Dis mos hemels hier in Sodom en Gamora vir die spul. DIE wat op die grensposte werk is ook nie van die… Lees meer »

Harley Davidson

Ek dink dit gaan veiliger wees om gevangenis oornag by ‘n bp of total garage in die stoorkamer toe te sluit.