Vier op plaas deur weerlig doodgeslaan

Argieffoto (Foto: CorinnaST, Pixabay)

Vier plaaswerkers van Upington in die Noord-Kaap is Dinsdag dood en vyf ander beseer toe hulle deur weerlig getref is.

Twee mans en twee vroue is Dinsdag laatmiddag op die Sador-plaas in Louisevale buite dié dorp deur weerlig doodgeslaan.

Volgens kol. Masha Gamieldien, woordvoerder van die polisie, is die betrokke plaaswerkers glo seisoenwerkers wat besig was om druiwe op die plaas te oes toe die weer opgesteek het.

Daar word vermoed dat die groep werkers tussen 16:00 en 18:00 deur die weerlig getref is. Die vier oorledenes is op die toneel dood verklaar waarna die ander vyf na ’n hospitaal op die dorp gehaas is.

Volgens Gamieldien sal die name van die oorledenes later vandag bekend gemaak word sodra die betrokke families in kennis gestel is.

Die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Anoniem ·

Tragies ! Mag God almal vertroos wat die gebeure moes aanskou en die naasbestaandes ???

Paul ·

Vir enige onnatuurlike dood word daar nog al die eeue ‘n geregtelike doodsondersoek gehou. Dit is niks nuut nie. Daar moet immers bepaal word wat die oorsaak van dood is anders sal ‘n persoon dood geslaan kan word en tussen die mense gesit word wat die weerlig getref het en almal sal dan as deur die weerlig getref beskou word.

Jerry ·

Die familie van die oorledenes kan n regspan kry wat kan probeer om nalatigheid aan die boer of wie ookal toesig gehou het, se kant te bewys. Die boer moes die werk afgelas het toe die weer begin opsteek het. Onthou die werkers werk op instruksie van die boer en as hy nie vir hulle se om op te hou werk nie, beteken dit dat hulle moet aanhou werk.

SjN ·

Dit was n fratsongeluk, as die kat kleintjies kry is dit ook seker die boer se skuld, die parlement het mos n geruime tyd gelede die weerlig laat ondersoek, gebruik sommer daai verslag, sal presies dieselfde wees.

humor ·

Jerry, baie moeilik om te bepaal. n Enkele drywende los wolk kan n lading van selfs meer as 20 km. veroorsaak .

anti-moaner ·

Dis ongewoon dat soveel mense op dieselfde tydstip en plek doodgeslaan word deur weerlig nie waar nie? Eerste keer wat ek hoor van so ‘n geval.

Roos ·

As hulle bymekaar gestaan het of saam op ‘n wa was, sal almal getref word. Dit het gebeur met 5 perde wat saam onder ‘n boom geskuil het by Kaapschehoop. Dit is nie ongewoon nie. Soms lees mens van mense wat saam gesterf het nadat ‘n hut getref is.

Db ·

Hierdie boer het problem want die EFF gaan kom plak en al die druiwe opvreet!

Gesiggie ·

Tragiese nuus. Iemand gaan sekerlik die skuld kry van nalatigheid. Die boer gaan beskuldig word dat hy nie die mense betyds na veiligheid gebring het. So jammer vir die naasbestaandes en al die betrokke persone.

LDP ·

Lees nou almal se kommentaar, en hier is my vyf sent. Die wat se ja dis die gaan seker weer die skuld kry is baie reg. Dit hang af wie hulle neuse nou weer hier gaan indruk. Die arbeidswet en veiligheidswet kan in werking tree. Het die boer die nodige risiko’s geidentifiseer en sy werkers in kennis gestel van die risiko’s en wat hulle moet doen in die situasies, soos bv. dadelike skuiling soek as daar swaar weer is. Is dit gedokumenteer en is dit gekommunikeer? Het hy weerligafleiers op die plaas? Die boer sal moet bewys dat hy redeliker uitvoerbaar opgetree het. Ek vat dit so as dit jou familie lid was wat by die werks plek so dood moes gaan, wat sal jy maak?

Ai tog ·

Ons word van kindsbeen af geleer die weerlig kan jou raakslaan, dit is nie iets wat jou werker vir jou moet leer nie, jy leer dit tog op skool. Genade die weerlig kan my by my werk ook tref, wat nou van al die ouens wat buite werk, paaie bou ens. Dit sal belaglik wees om die werkgewer aanspreeklik te hou tensy hy hulle gedwing het om aan te hou werk in sulke weer. En FYI die weerlig het al mense op ‘n sportveld ook getref, moet die unies ook opdok?

LDP ·

Wil nie met jou opinie stry nie. Ek maar net my opinie ook gelig. Wet is wet gaan lees artikel 13 van die gesondsheid en veiligheids wet. En in so geval moet jy dit kan bewys in die hof. En om jou te beantwoord op jou vraag van sportveld….. Ja korrek as jy vergoed word vir n dienslewering dan is die werkgewer verantwoordelik vir jou veiligheid.

bollie ·

Daar’s geen Wet wat ‘n werkgewer aanspreeklik hou vir ‘n natuurramp nie. Dit sou eenvoudig belaglik wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.