Vier polisiebeamptes vas ná man in vangwa sterf

Argieffoto: Nico Strydom

Vier polisiebeamptes sal Woensdag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg verskyn nadat drie mans glo agter ʼn polisiestasie aangerand is en een van dié mans gesterf het.

Twee konstabels en twee sersante is Maandag in verband met dié voorval in hegtenis geneem.

Moses Dlamini, woordvoerder van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod), sê die voorval het op 10 Maart in Katlehong-Noord gebeur. Volgens Dlamini is Opod-ondersoekers op dié dag na die Thelle Mogoerane-hospitaal in Vosloorus ontbied nadat ʼn sterfte in polisie-aanhouding by hulle aangemeld is.

“Daar word beweer twee konstabels van die Katlehong-Noord SAPD het ʼn Toyota Verso voorgekeer waarin daar ses familielede was. Die polisiebeamptes het vermoed dat die bestuurder onder die invloed van alkohol was,” sê hy.

“Daar word beweer die polisiebeamptes het probeer om die bestuurder in hegtenis te neem en hy het hom teëgesit. Die beamptes het versterking ontbied en nog polisievoertuie het opgedaag. Die bestuurder is in hegtenis geneem en na die Katlehong-Noord polisiestasie geneem.”

Dlamini sê daar word beweer die bestuurder en nog twee mans is agter die polisiestasie deur minstens vyf polisiebeamptes aangerand. Ná die aanranding is die drie mans in ʼn polisievangwa gelaai en na die Thelle Mogoerane-hospitaal geneem sodat die bestuurder se bloed getrek kon word.

“Die bestuurder is na ʼn dokter toe geneem en die ander twee mans is in die vangwa gelaat. Een van die mans is in die polisievoertuig dood en is deur ʼn dokter dood verklaar. ʼn Nadoodse ondersoek en mediese ondersoek het getoon die slagoffers is erg aangerand.”

Die oorledene is sedertdien as die 48-jarige Phikolomzi Tatsi geïdentifiseer.

Die polisiebeamptes sal op aanklag van moord en twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Malmokkie ·

Seldftoe dit sap was, was polisielese nika andera as boelies nie.

jaco ·

Karma pas lyfstraf en die doodstraf toe, maar dis ook nie goed genoeg nie.

George in Bloem ·

Hmmmmm……Seker al uit en terug by die werk…..of sit by die huis en kry volle salaris en ander voordele.Dis mos hoe dit werk hier in hierdie piesangrepubliek van ons deesdae??

Malmokkie ·

Self toe dit sap was, was polisielede niks anders as boelies nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.