Vier polisiebeamptes vas vir diefstal

handcuffs3-320x257Vier polisiekonstabels is Donderdag in verband met diefstal in hegtenis geneem in Mpumalanga.

Kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die beamptes, tussen 30 en 34 jaar oud, staan tereg op aanklagte van diefstal, die besit van gesteelde goedere en regsverydeling. Hlathi sê inwoners van Pienaar naby Nelspruit het die polisie Woensdag in kennis gestel dat twee polisiebakkies besig is om kruideniersware by ʼn huis in die area af te laai. Die polisie het na die toneel gery om die saak te ondersoek. “Polisielede het die huis binnegegaan en kruideniersware gevind by ʼn vrou wat glo die eienaar van die huis is. Die vrou is ondervra en het aan die polisielede gesê dat die vier beamptes die kruideniersware na haar huis gebring het.” Die vrou het aan die polisielede gesê dat die beamptes R2 500 vir die kruideniersware ter waarde van R4 000 geëis het. Sy het aan die konstabels gesê dat sy nie geld het nie waarna hulle glo aan haar gesê het dat hulle later die geld by haar sal kry. Die vrou is in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere. Hlathi sê die kruideniersware is glo tydens die onlangse onrus in Pienaar gesteel. Die konstabels het hulself Donderdag aan die polisie oorgegee. Die vyf verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Kabokweni-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.