Vier renosterstropers gevonnis

Foto ter illustrasie: Save the Rhino via Facebook

Vier renosterstropers is in die streekhof op Zeerust in Noordwes gevonnis danksy samewerking tussen die Lehurutshe-veediefstaleenheid en die Madikwe-natuurreservaat se veldwagters.

Die span het op 24 Junie verlede jaar op ʼn wenk gereageer dat stropers in die park bedrywig was. ʼn Soektog gedurende die dag en daardie nag het daartoe gelei dat twee verdagtes met ʼn ongelisensieerde vuurwapen, tuisgemaakte knaldemper en messe in hul besit in hegtenis geneem is, sê kapt. Sam Tselanyane, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Tydens hul ondersoek het lede van die span op ʼn beseerde renoster afgekom. ʼn Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van nog ʼn verdagte en ʼn plaaslike stamhoof, wat die stropers gehuisves en gehelp het.

Jetro Moyagabo (Jet) Malema (44) is op vyf aanklagte tot effektief ses jaar tronkstraf gevonnis.

George Itumeleng Thutlwa (32) en Joseph Kgosietsile Tsiepe (41) is albei vier jaar tronkstraf opgelê of ʼn boete van R200 000, waarvan R150 000 of drie jaar is vir sameswering om ʼn misdaad te pleeg. Laasgenoemde vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hulle nie weer soortgelyke misdaad pleeg nie.

Hulle is gelas om R50 000 te betaal en het ooreengekom om dit vanaf 31 Desember vanjaar in maandelikse paaiemente van R5 000 af te betaal.

Al drie is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit. Tsiepe is gevolglik gelas om dadelik sy vuurwapen in te dien.

Afonso Alberto Balate (44) is reeds op 1 Desember verlede jaar gevonnis nadat hy skuldig gepleit en staatsgetuie geword het. Hy is effektief agt jaar tronkstraf opgelê.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Noordwes-polisiekommissaris, het die polisie en veldwagters geloof vir hul samewerking wat tot die inhegtenisnemings, skuldigbevinding en vonnisoplegging gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Lyk my as jy skuldig pleit en staatsgetuie draai word jy die swaarste gestraf!!

toy ·

Gooi die tronkselsleutel so ver weg, hulle moet maar sit. Hulle het geen genade gehad vir daai diere nie.

Geregtigheid ·

Kan daa nie gelykheid kom oor vonnisse nie. Renoster stroping is mos ernstig storie en verdien n groter vonnis. Hierdie vonnis is belaglik. Ander stropers het 25 jaar gekry?????

Ou Johnny ·

Wat ‘n klomp narre, hulle word gevang met ‘n ongelisensieerde vuurwapen en nou word hulle onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te mag besit. Die regstelsel vou heeltemal

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.