Vier rondloper-cheetahs ‘buite gevaar’

Die vier jagluiperds word al dae lank dopgehou. Foto ter illustrasie. (Argieffoto: Dinokeng)

Die vier jagluiperds wat verlede week in die omgewing van Kuruman in die Noord-Kaap opgemerk is, is “buite gevaar”.

Die jagluiperds wat vryelik rondbeweeg, het teen die naweek noord na die Suid-Afrikaanse grens met Botswana beweeg en hulle bewegings word in ʼn gesamentlike poging tussen die departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, die Cheetah Outreach Trust en die polisie dopgehou.

Volgens die departement is die diere in hierdie stadium veilig, maar spanne op die grond hou die situasie steeds fyn dop.

Die omgewing waar die jagluiperds hulle in hierdie stadium bevind. (Kaart verskaf)

Maroela Media het vroeër berig dit is onduidelik waar die diere oorspronklik vandaan kom.

Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) het ʼn helikopter en veearts op bystand geplaas wat dadelik kan ingryp indien die vang en hervestiging van die diere nodig word.

Mase Manopole, LUR van die departement, het diegene betrokke by pogings om die jagluiperds weg van nedersettings en mense se vee te hou, bedank.

“Die jongste terugvoer wat ons van die grondspanne ontvang het, is dat die katte noord na die Suid-Afrikaanse grens met Botswana beweeg het. Dit is ʼn belangrike oomblik wat wys dat samewerking tussen die regering en private sektor positiewe uitslae tot voordeel van gemeenskappe lewer,” sê Manopole.

“Nou kan mense weer soos gewoonlik met hul lewe aangaan en werk, sonder vrees van ʼn aanval.”

Die LUR het gemeenskappe in die omgewing van Tsineng, Matlhwaring and Ga-Sese-rivier in die John Taolo Gaetsewe-distrik bedank dat hulle kalm en geduldig gebly het terwyl spanne op die cheetahs se spoor gebly het.

Sommige van die spore wat gevolg word. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.