Vier SAL-raadslede bedank

Argieffoto

Argieffoto

Vier nie-uitvoerende raadslede van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het bedank, het die departement van openbare ondernemings Vrydag gesê.

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het SAL-raadslede Woensdag ingelig oor ʼn spesiale algemene vergadering wat op 23 Oktober plaasvind. Een van die items op die agenda is die verwydering van nie-uitvoerende lede van die raad.

Volgens die verklaring het Brown opgetree in haar amptelike hoedanigheid as die aangewese verteenwoordiger van die enigste aandeelhouer van die lugredery, die Suid-Afrikaanse regering. Vier nie-uitvoerende raadslede het teen Vrydagoggend hul amptelike bedankings by Brown ingedien.

“Dit is ʼn jammerte dat van die raadslede op die pad besluit het. Die vergadering het ten doel om hulle kans te gee om op die rekord te reageer. Ek sal my kommentaar rakende raadlidmaatskap vir eers beperk ten einde regverdig te wees teen diegene wat wel besluit om die vergadering by te woon,” het Brown gesê.

Volgens Brown is sy en Nhlanhla Nene, minister van finansies, aan die hoof van ʼn interministeriële taakspan wat fokus op die toekoms van die lugredery. “SAL het die afgelope paar jare ʼn verlies gely en ‘n ingryping wat voortspruit uit ons werk, sal daarop gemik wees om die maatskappy so gou as moontlik van sy balansstaat af te laat leef,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.