Vier SA’ners steeds in Afghanistan gestrand

‘n Helikopter met ‘n Taliban-vlag vlieg oor ondersteuners van die groep wat die VSA se onttrekking aan die land vier. (Foto: Javed Tanveer/AFP)

Vier Suid-Afrikaners is steeds in Afghanistan gestrand. Die regering sê nou dis nie sý verantwoordelikheid om hierdie burgers terug te bring Suid-Afrika toe nie.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die IVP gesê daar was aanvanklik 34 Suid-Afrikaners in Afghanistan wat die land wou verlaat nadat die Taliban beheer oorgeneem het.

“Dertig Suid-Afrikaners het Kaboel verlaat met ontruimingsvlugte wat gereël is deur die betrokke werkgewers en gebruik gemaak het van vlugte van die VSA en die Verenigde Koninkryk.

“Die oorblywende vier Suid-Afrikaners wag dat hul werkgewers reëlings tref vir hulle om die land te verlaat,” sê Pandor.

Die minister sê daar is nog geen planne om Suid-Afrikaners summier uit Afghanistan te neem nie.

“Die Suid-Afrikaners is in Afghanistan met private sake en werk meestal vir groot, multinasionale maatskappye, internasionale organisasies, nieregeringsgroepe en internasionale veiligheidsmaatskappye.

“Suid-Afrikaners wat Dirco en die Suid-Afrikaanse hoë kommissie in Pakistan genader het, is ingelig dat dit die verantwoordelikheid van hul werkgewers is om te reël dat hul buitelandse werkers met spesiale ontruimingsvlugte terugkeer,” sê Pandor.

Dirco het Woensdag ook gesê Suid-Afrika is nie in ʼn posisie om vlugtelinge uit Afghanistan hier te huisves nie.

Duisende mense het die afgelope paar weke uit Afghanistan gevlug nadat die Taliban beheer van Kaboel oorgeneem het.

Die VSA het Maandag boonop die laaste van sy soldate uit die land onttrek ná ʼn oorlog wat 20 jaar geduur het.

Mkhuleko Hlengwa, woordvoerder van die IVP, sê die situasie in Afghanistan is een wat groot kommer wek en dat die IVP dankbaar is dat die meeste Suid-Afrikaners nou buite gevaar is.

“Die veiligheid van burgers van oor die wêreld is egter van belang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Blikkies ·

“Die veiligheid van burgers van oor die wêreld is egter van belang.” Se Naledi Pandor!! Maar ek lees tussen die lyne ons mense daar moet maar self n plan maak om uit te kom! watse nonsens is dit? Maar die Regering het n tyd gelede sommer ‘n staatsvlug gebruik om ‘n kamstige vlugteling saam te bring vanuit die Kongo? Die ANC is af.

tweeling ·

Nee Blikkies dis die woordvoorder van IVP wat dit gesê het

Potifar ·

Ek is vriende met een en praat gereeld, hy is in die VN compound en alles lyk ok vir nou. Die Taliban los hul grotendeels uit. Hul het internet, krag en genoeg kos tot op hede, hul kyk om teen Oktober te ontruim, maar ons sal maar sien.

Samuel ·

Pandor en kie gee geen snars om vir SA’ners in Afghanistan nie veral as hulle nie van “our people” is nie. Mens kan skaam wees om ‘n Suid-Afrikaner genoem te word.

minnie muis ·

ongelukkig is hul van verkeerde kleur anders was hul al uit gehelp deur hulle

Ian ·

Wat verwag jy van die regering anders as dit. Hulle wil net die taks ontvang maar voel verder niks vir ons mense oorsee nie.

Cherokee ·

Mense wat oorsee werk betaal nie Suid Afrikaanse inkomste belasting nie. Die regering is besig om perke te stel aan die bedrae wat belastingvry geïn mag word. ‘n Vriend werk in Saudi werk vir ± R80,000 pm en vul slegs paspoort en visa stempels in op sy aanslag om te bewys die geld is in die buiteland verdien. Hy staak egter nou die werk daar vanweë aandringing op inenting wat hy weier om te doen.

Swerwer ·

Natuurlik sal die Regering dit sê want hul is seker nie ANC ondersteuners nie. Die ANC voel niks vir hierdie land se burgers nie, veral vir die eerlike burgers nie. Jy moet ANC stem en ‘n rits oortredings teen jou naam hê voor hul iets vir jou sal doen.

Smiley ·

Kyk ek reg of die Taliban met n Amerikaanse helikopter ? ????????????

Vrijburger ·

Gaan lees gerus hoeveel helikopters, vliegtuie ens agtergelaat is in Afghanistan sonder om dit buitewerking te stel met die oorhaastige ontrekking. Dit is skrikwekkend.

Ps. vir die inligting sal jy ‘n bietjie wyer moet lees as jou standaard hoofstroom media.

Hardekwas ·

Ek wonder wie het hulle opgelwi om dié helikopters te vlieg.

Charmain ·

Maar Dirco sal uit sy pad gaan om n rugby speler wat in die buiteland deur die polisie geskiet is, terug te bring SA toe….our people!

Leana ·

Ek dink dit is baie swak van ons regering om nie te help nie.

Toy ·

Hete kan hul die SA’ners nie vinniger daar uit kry nie, dit gaan rof daar. Die Taliban gaan klop aan deure waar mense bly en skiet hul voor dit voet dood.

Karina ·

Met die uitbreek van Covid, het die regering hoeveel duisende betaal om die studente terug te bring Suid Afrika toe … maar dit was ‘our people’ Noudat ons mense in Afghanistan gestrand is, word hulle nie gehelp nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.