Vier skiet glo op joernalis tydens NMU-betoging

Die Suid-kampus van die NMU. Foto: NMU.

Studente het Woensdag vir ʼn tweede dag voor die kampus betoog ná die gewelddadige aanval Maandagaand op twee studente op die NMU se Tweede Laan-kampus. ʼn Student is verkrag tydens die voorval en ʼn ander met ʼn skêr gesteek.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die vier mans het in ʼn Ford Ranger-bakkie rondgery. Hulle het glo eers ʼn vuurwapen op ʼn motoris gerig in Rinkstraat, Sentraal, voordat hulle na die Suid-kampus gery het.

“Die bestuurder van die bakkie het glo die Suid-kampus probeer binnery en ʼn U-draai gemaak toe veiligheidswagte hulle voorgekeer het. Daar is toe glo skote afgevuur naby aan waar die studente betoog het. Daar is ook op ʼn kameraman van eNCA-nuus geskiet wat besig was om beeldmateriaal van die betoging te kry.” Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Volgens Naidu is die nommerplaat van die bakkie dadelik aangestuur en is die bakkie op die M4 voorgekeer. Die bestuurder en drie insittendes van die bakkie is in hegtenis geneem. Die verdagtes, tussen 27 en 35 jaar oud, is in aanhouding by die Humewood-polisiestasie.

Naidu het gesê daar is op ʼn 9 mm-pistool en ammunisie beslag gelê tydens die inhegtenisnemings. Daar is ook beslag gelê op die bakkie. Volgens Naidu het die bestuurder en eienaar van die bakkie ʼn lisensie vir die vuurwapen en ammunisie.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van die rig van ʼn vuurwapen, poging tot moord en die afvuur van ʼn vuurwapen.

Studente is kort na die skietery uiteen. Die studente-orgranisasie Sasco het intussen geëis dat Derek Heubsh, NMU se hoof van veiligheid, afgedank word en dat veiligheid op al die universiteit se kampusse opgeskerp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

G ·

Kyk nou net, die studente is kort na die skietery uiteen! So well done aan die skieters wat dit reggekry het wat ons polisie nie eers kon regkry met laasjaar se betogings nie – waar miljoene rande se skade aangerig is deur ‘studente’. Maar nou klink dit of ek die skietery goedkeur, wat nie die geval is nie. Ek wens net die polisie wil opstaan, en wet en orde terugbring.

Johan ·

Die polisie mag mos nie meer skiet nie. Kyk wat het met Marikana gebeur.

Theresa B ·

Die polisie het nie meer die fight van vroeër nie. Hou hulle maar dop. Waar moeilikheid is sal hulle staan en kyk en niks doen nie. Hulle is bang en word SO gou geintimideer. Useless om wet en orde te handhaaf. Dis hoekom daar soveel wetteloosheid is. Diè wat minder as min guts het om iets te doen is deel van die misdadigers.

Seun ·

Moet ongelukkig saamstem. Daar is ‘n paar probleme met die polisie, eerstens die korrupte element in die polisie, tweedens die feit dat hulle geintimideer en gedreig word in hulle woongebiede of wanneer hulle van openbare vervoer gebruik maak, derdens word hulle van moord aangekla as hulle hulleself verdedig. So net so graag soos ek die polisiemanne altyd die skuld wil gee, net so WEET ek hulle is al te bang om die rewolwer uit die holster te haal want hulle weet watter stappe daar teen hulle geneem gaan word, dan sit hulle familie sonder ‘n inkomste.

Johan ·

Die polisie het hulleself in Marikana verdedig en daar word blou moord daaroor geskreeu.

Spiekeries ·

MM, proeflees iemand julle berigte? Kyk na “twee(de) dag en “toe glo skote daar skote afgevuur”.

Dalene de Vente ·

Dagsê Spiekeries
Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Dalene
Nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.