Vier skuldig bevind in bedrogsaak van R6 miljoen

Argieffoto

Vier persone is, ná ʼn uitgerekte hofsaak, skuldig bevind op aanklag dat hulle die Landbank in 2008 met R6 miljoen bedrieg het.

Philemon Radichaba Mohlahlane (62), Manyaba Rubben Mohlaloga (44) Dinga Rammy Nkhwashu (40) en Dingamanzi Ka Dinga van Masepule Dinga-prokureursfirma, is Maandag in die Pretoriase gespesialiseerde handelsmisdaadhof skuldig bevind het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Die beskuldigdes het in Januarie 2008, met behulp van die invloedryke Mohlahlane, wat in daardie stadium die uitvoerende hoof van die Landbank was, saamgesweer en R6 miljoen na die trustrekening van Masepule Dinga-prokureurs oorgeplaas. Die geld is van Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging in die landbou, algemeen bekend as Agri-BEE oorgeplaas,” het Mulaudzi verduidelik.

Volgens hom is die oorplasing gedoen sonder die nodige prosesse en Mohlahlane het die prosedures ondermyn en die fondsbestuurder by Agri-BEE opdrag gegee om die betrokke betaling sonder enige stawende dokumentasie goed te keur.

“Die fondsbestuurder, wat uiteindelik vir die staat getuig het, het eers ʼn maand ná die betaling gedoen is, ʼn aansoek vir die bewilliging ontvang. Die aansoek het verband gehou met finansiering om grond, vee en prosesseringseenhede aan te skaf.”

Nadat die R6 miljoen in die trustrekening gedeponeer is, is die geld versprei tussen die beskuldigdes en ʼn plaas is vir R2 miljoen aangekoop, asook ʼn X5 BMW en ʼn BMW 118i vir Mohlaloga, wat in daardie stadium ʼn lid was van die parlement en die voorsitter van die portefeuljekomitee van landbou. R2,2 miljoen is na die sakerekening van Masepule Dinga-prokureurs oorgeplaas en vir die persoonlike voordeel van Nkwashu aangewend.

“Die geld is egter nooit, soos die aansoek aangedui het, aangewend tot voordeel vir plaasarbeiders en/of opkomende boere nie, maar eerder vir die beskuldigdes se persoonlike voordeel. Die groep is in Oktober 2012 deur die Valke se eenheid vir ernstige misdaad in hegtenis geneem nadat ʼn saak by die Brooklyn-polisiestasie aanhangig gemaak is,” het Mulaudzi bygevoeg.

Die beskuldigdes is skuldig bevind op aanklag van bedrog en geldwassery.

Die beskuldigdes moet op 8 Maart weer in die hof verskyn vir getuienis ter strafversagting en sal na verwagting op 3 April 2018 gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tamboti ·

Hierdie R6 milj. se BBEEEE bedrog saak is seker nie eers 0.1 % wat rerig gepleeg is nie!
Dit is egter van groot waarde om net te wys dat dit werklike tendens is van NSA in BBEEE hande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.