Vier skuldig vir Parys-pypmoord

Craig Marx. Foto: Pink Ladies/Facebook

Craig Marx. Foto: Pink Ladies/Facebook

Vier mans van Parys in die Vrystaat is Donderdag skuldig bevind aan die moord op Craig Marx, ʼn sakeman van die dorp wie se liggaam in Desember 2014 in ʼn stormwaterpyp gevind is.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat Koen van Aswegen (53), sy seuns JR (22) en Nikolai (18), en Dawid Kuyler (19) skuldig bevind is aan moord en roof met verswarende omstandighede. Shuping het gesê die mans sal op 25 April weer in die hof verskyn om gevonnis te word.

Maroela Media het vroeër berig die beskuldigdes het Marx (47) glo op 4 Desember 2014 in ʼn lokval gelei nadat hulle vantevore opknappingswerk by sy huis gedoen het. Van Aswegen, wat Marx glo R10 000 geskuld het, het saam met die medepligtiges ʼn skoktoestel gebruik om hom te verlam. Hulle het hom hierna met ʼn staalpyp aangerand voordat hulle hom met plastiek en toue vasgebind het. Hy is daarna lewend in ʼn stormwaterpyp sowat 15 km buite Parys gegooi. Volgens die lykskouing het Marx waarskynlik versmoor.

ʼn Vyfde beskuldigde, wat ten tyde van die moord minderjarig was, het as staatsgetuie opgetree in ruil vir moontlike vrywaring van vervolging kragtens art. 204 van die Strafproseswet.

Ella van der Schyff, Marx se vriendin, het Vrydag aan Maroela Media gesê sy het die hofverrigtinge tydens die hele verhoor bygewoon omdat sy eerstehands die gebeure wou hoor wat tot haar geliefde se dood gelei het.

“Ek is tevrede met die skuldigbevinding en voel geregtigheid het geskied. Niks kan vir Craig terugbring nie, maar die regter in die saak was briljant en het hom uitstekend van sy taak gekwyt,” het sy gesê.

“Ek sal Craig altyd onthou as ʼn man met ʼn oop hart en ʼn oop hand. Iemand wat nooit nee gesê het wanneer iemand anders hulp nodig gehad het nie en nooit iets terug verwag het nie. Hy was ʼn wonderlike mens. Ek sal weer in die hof wees wanneer sy moordenaars gevonnis word, maar ek hoop ek kan nou hierdie hoofstuk agter my sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

DPJ ·

Hoe tragies dat ‘n mens iemand ander so traagies kan vermoor en dan met’n glimlag kan wegstap.
‘n Lewe vir R10,000.
Ons lewe in die eindtyd.

Riaan ·

Hy was so nice om hulle R10000 te leen en dit is hoe hulle hom bedank,deur hom te vermoor,mag julle gemors lank sit.

Kobus ·

Die doodstraf moet ingestel word. Al is jy wit of geel of pers…

Ouman ·

Bring terug die doodstraf. Anders is die gespuis oor ‘n paar jaar weer vry. Hoekom moet die belastingbetaler hulle onderhou – hang hulle en spaar geld

Michael ·

Stem saam ……BRING TERUG DIE DOODSTRAF…en steun die aanklagtes teen fw en vlok

Deon ·

Marine’ Jacobs: Daar bestaan nie so wet soos die Wet op Kriminele Prosedure nie!!!! Jy het dit waarskynlik net so uit die Engelse benaming oorvertaal. Die korrekte naam van die wet heet die Strafproseswet, 1977. Vergewis jou van die korrekte feite voordat jy artikels skryf. Swak styl!

Sune van Heerden ·

Dagsê Deon

Ons vra om verskoning dat ons nie dié growwe fout raakgesien het nie. Ons het die berig gewysig.
Marine se “feite” is egter nie foutief soos jy aandui nie, dit was slegs die verkeerde vertaling.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

drienie van aswegen ·

Ai die mense het tog soveel te se in hierdie saak ek verstaan en weet iemand is oorlede maar besef julle wat al sulke kommentaar skryf dat hy ook n man het en ook ander kinders en kleinkinder en dis my geliefdes waaroor so die doodstraf gewens word! Ek as vrou en ma voel sleg biterrrrrrrr sleg oor dit alles maar nogsteeds is dit my man en kinders!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.