Vier soek wat uit Rooigrond-gevangenis ontsnap

Die Rooigrond-gevangenis in Mahikeng. (Foto: Google Earth/Skermskoot)

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het saam met die polisie ʼn soektog na vier gevangenes begin nadat hulle vroeg Dinsdagoggend uit die Rooigrond-gevangenis in Mahikeng ontsnap het.

Die vier veroordeelde misdadigers het vermoedelik deur die tronk se venstertralies gebreek en lakens gebruik om oor die veiligheidsheining te klouter.

ʼn Ondersoek na hoe presies die vier ontsnap het, is egter reeds van stapel gestuur.

Die ontsnapping volg kort nadat ʼn gevangene in Desember verlede jaar uit dieselfde sentrum ontsnap het. Hy is steeds op vrye voet.

Die vier voortvlugtendes is twee Mosambiekers, Zacharia Nyalimate en Alfred Gwambe, asook twee Suid-Afrikaners, Siyabonga Sithole en Edward Madiba.

Nyalimate is skuldig bevind aan huisbraak en moord en tot 27 jaar tronkstraf gevonnis. Gwambe dien 65 jaar tronkstraf uit vir huisbraak, diefstal en die besit van ʼn gesteelde voertuig. Sithole is skuldig bevind aan huisbraak, diefstal en verkragting en dien ʼn lewenslange vonnis uit, en Madiba is 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof en die besit van ʼn onwettige vuurwapen.

Die vakbond Popcru het die jongste ontsnapping veroordeel en gesê veiligheid by die sentrums moet verskerp word.

Volgens Popcru het die misdadigers deur die sentrum se venstertralies ontsnap en oor die veiligheidsheining gespring.

Daar was tydens hul ontsnapping glo net een korrektiewe beampte aan diens by die betrokke eenheid. Dié eenheid huisves glo 300 van die sentrum se byna 1 000 gevangenes.

“Veelvuldige uitdagings staar die departement in die gesig. Dit wissel van oorbevolking tot te min personeel,” sê die vakbond.

Die DKD het ʼn beroep op mense gedoen om enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die vier voortvlugtendes aan die owerhede te gee.

“Hulle word as gevaarlik beskou en indien mense hulle gewaar, moet die polisie ontbied word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Moedeloos ·

Hoe sterk is daardie venstertralies. Dit klink eerder vir my of dit by Game gekoop is want ordentlike sterk tralies wat dit veronderstel moet wees sal nie sommer gebreek kan word om te ontsnap nie. Of daar is geen instandhoudingswerk gedoen by daar die gevangenis nie.

Jack ·

So gaan dit.Hoekom deesdae so baie ontsnappings ? Hoe werk julle sekuriteit ?

Casper ·

Nee wat dit is allermins by Game gekoop;
1 Hulle het of ‘n saaglem by die werkwinkel gekry
2 Of iemand wat in die tuine werk het een iewers gekry en so het hulle die tralie deurgesaag.
3 Of ‘n bewaarder het aan hulle die saaglem verskaf.
Wat wel verdoemend is,is die feit dat deursoeking nie na behore gedoen is nie.
Jy kan op geen ander manier die tralies af kry nie behalwe met ‘n hoeksnyer of saaglem.

Faraway ·

Veelvuldige uitdagings staar die departement in die gesig. Dit wissel van oorbevolking tot te min personeel,” sê die vakbond.
Enige gevangenisse bedreig almal se lewens . . . sekuriteite by tronke moet hoogste prioriteite geniet want dit verhoed dat diè wat na maande/jare se gesoek uiteindelik gevang word, weer gesoek moet word!
Daar is nuwe sake wat eerder hulle aandag en media dekking moet kry!!!

Kokerboom ·

Die boewe lyk sommer of GEEN staal hul gaan keer(met binne of buitehulp natuurlik!)

JM ·

Darem te goed om waar te wees. Hierdie ontsnaptes het met hulp van buite weggekom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.