Vier mense is dood en agt mense is beseer nadat ʼn minibus en ʼn motor Saterdagaand op die R102 naby Mandini, KwaZulu-Natal gebots het.
Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het gesê albei voertuie is erg beskadig in die botsing. Sy het gesê die drie insittendes van die motor is almal op die toneel dood verklaar. Een insittende van die taxi is ook in die botsing dood.
Volgens Steinmann is agt van die minibus se insittendes beseer. Een persoon is kritiek beseer en moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word.
Die beseerdes is op die toneel behandel voor hulle na nabygeleë hospitale geneem is vir verdere behandeling.