Vier sterf in Limpopo-ongeluk

(Foto verskaf aan Maroela Media)

Minstens vier persone is Maandagoggend vroeg oorlede in ʼn trompop botsing naby Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo.

Derrick Maidment, woordvoerder van Naboom-insleepdienste, het aan Maroela Media gesê hulle is omstreeks 04:45 na die toneel op die R101, sowat 2 km buite Mookgophong, ontbied.

“Alle rolspelers en brandweer was baie vinnig op die toneel,” het Maidment bygevoeg. “Maar met ons aankoms was drie persone in die motor en die bestuurder van die bakkie reeds oorlede.”

ʼn Man, vrou en hul dogtertjie, waarskynlik tussen een en twee jaar oud, het in ʼn Hyundai Atos gery toe ʼn bakkie hulle reg van voor getref het. Al drie lede van die gesin is in die ongeluk oorlede. Die bestuurder van die bakkie het ook in die ongeluk omgekom. ʼn Passasier, wat in die bakkie gery het, is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal geneem.

“Dit is nooit lekker om op só toneel af te kom nie – veral nie as daar ʼn klein kindjie oorlede is nie,” het Maidment gesê.

Die name van die slagoffers is nog nie bekend gemaak nie. Die bestuurder van die bakkie het by ʼn veiligheidsmaatskappy gewerk.

Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek. Maidment het gesê die toneel was eers teen ongeveer 11:00 opgeruim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.