Vier sterf in nóg ʼn padongeluk

Een van die wrakke op die toneel. (Foto: SAPD)

Vier mense is dood in ʼn ernstige padongeluk op die N12 Saterdagaand, een van verskeie padongelukke wat die afgelope naweek die lewens van talle mense geëis het.

Dié ongeluk het gebeur toe drie voertuie omstreeks 19:00 op die snelweg naby Ikageng in Noordwes gebots het.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê daar word beweer ʼn Tata-bakkie het oor die N12 gery by die laaste ingang na Ikageng vanaf die N12. Die bakkie het met ʼn Hyundai-voertuig gebots wat vanaf Klerksdorp na Potchefstroom op pad was.

“Weens die botsing is ʼn aantal mense van die bakkie se bak af geslinger en hulle het op die pad te lande gekom. In daardie oomblik het nog ʼn voertuig, ʼn Kia, na bewering in die mense wat op die pad was, ingeploeg,” sê Myburgh.

Twee mans en twee vroue is op die toneel dood, terwyl sewe ander mense met ernstige beserings na ʼn hospitaal gehaas is. Die pad was vir ongeveer vyf ure gesluit terwyl nooddienste op die toneel besig was.

Myburgh sê die oorledenes is nog nie formeel uitgeken nie. ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Melissa

Regtig? Die mense het hulle lewens viloor wat as dit een van jou geliefdes was! Almal wil die hele tyd stry en bespiegel wat gebeur het!!!

Thelma

Ek ry weekliks daardie pad en het al gesien hoe motors kanse vat om by Ikageng in te draai al is daar aankomende verkeer, moes al telkemale remme aanslaan omdat die motors wat wil draai, ongeduldig raak.

Bloudrom

Die grootste probleem is dat 80% van die bestuurders nie driedimensioneel kan sien nie. Hulle weet nie of dit n lorrie is wat ver is of n bakkie wat naby is nie. Dis waar die kop-aan-kop botsings vandaan kom. Dan glo hulle ook as hulle nie n ander voertuig sien nie, is daar nie een nie.