Vier sterf tydens hoëspoedjaagtog met moordverdagte

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie in die Vrystaat het ʼn moordverdagte in hegtenis geneem ná ʼn hoëspoedjaagtog waarin vier persone gesterf het.

“ʼn 27-jarige vrou van Namahadi in Qwaqwa is Donderdag dood aangetref in haar huis,” het kapt. Phumelelo Dhlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. “Haar 22-jarige man het haar glo verwurg in vir dood agtergelaat in die huis. Hy het met hul klein vyfjarige dogtertjie weggery voor verkeersbeamptes hom in Senekal afgetrek het toe hy die spoedgrens oortree het.”

Die man het glo op die toneel probeer om ʼn verkeersbeampte om te koop om hom nie in hegtenis te neem nie, maar toe die beampte weier, het die man weggejaag. Die verkeersbeampte het ondersteuning ontbied en die Marquard-polisie het ʼn padblokkade op die R707 opgestel.

“Die verdagte het nie by die padblokkade stilgehou nie, en het ʼn voertuig met ʼn Lesotho-registrasienommer getref,” het Dhlamini bygevoeg. “Vier persone in daardie voertuig is op slag dood. Polisie- en verkeerspolisievoertuie is ook beskadig.”

Die verdagte en sy dogter het geringe beserings opgedoen en is in Senekal-hospitaal opgeneem. Hy is onder polisiebewaking.

“Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die man van die moordtoneel in Namahadi gevlug het. Hy sal na verwagting Maandag in die Marquard-landdroshof verskyn op aanklag van moord, strafbare manslag en die omkopery van ʼn verkeersbeampte,” het Dhlamini gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dee ·

Daar behoort geen manslagklagtes te wees nie maar slegs moordklagtes want dit is met voorbedagte rade gedoen, sy vrou en ook die slagoffers in die Lesotho-kar (nè Gerrie).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.