Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Bheki Nkosi (35), Clement Thato Moseou (42), Lebogang Mndebele en Paul Mayathela (23) is Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg gevonnis op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Nkosi is tot lewenslange tronkstraf gevonnis terwyl Moseou tot 25 jaar tronkstraf en Mndebele en Mayathela tot 20 jaar tronkstraf elk gevonnis is.
Fredrick Botha en sy twee huishulpe is op 11 Julie 2015 in Botha se huis in Kempton Park deur die vier mans oorval. Botha is aangerand en die mans het hom en die huishulpe gedwing om op die vloer te lê. Drie van die mans het hierna sowat R250 000 se huishoudelike goedere bymekaargemaak terwyl die vierde buite in Botha se vrou se motor op hulle gewag het.
Martinus Bann, Botha se buurman, is in die maag geskiet toe hy een van die vier in Botha se vrou se motor genader het. Die veroordeeldes het hierna te voet gevlug en twee van hulle is naby die toneel deur oplettende lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum in hegtenis geneem. Beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie kon daarin slaag om die ander twee kort daarna in hegtenis te neem.
Bann het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Die NVG het die vonnisse verwelkom.
Wonderlik! Fantasties! Dit was ‘n dag wat Kempton saamgestaan het. Nou kan die tannie hopenlik vrede he. RIV oom Marthiens!
Vonnisse ewenaar nie Mnr. Bann se reg om te lewe nie maar klink vir eers nie te sleg nie.
Hulle sal binne 10jaar weer terug wees op straat om landsburgers te terroriseer!