Vier vakbonde by SAL wil pakkette aanvaar

(Foto: Unsplash)

Vier vakbonde en personeelverteenwoordigers is gereed om die vrywillige skeidingspakkette wat as deel van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddings- en herstruktureringsproses aangebied word, te aanvaar.

“Dit is die voorloper vir die totstandkoming van ʼn lewensvatbare, volhoubare, mededingende lugredery wat geïntegreerde plaaslike-, streeks en internasionale vlugte kan verskaf,” het die departement van openbare ondernemings Donderdag gesê.

Die departement sê hy het Woensdag ondernemings van die National Transport Movement (NTM), die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu), die Aviation Union of South Africa (Ausa), Solidariteit en verteenwoordigers van werkers wat nie vakbondlede is nie, sover gekry dat hulle die pakkette wil aanvaar.

Druk van vakbonde het vroeër bygedra tot die besluit om ʼn stemmery van krediteure oor die voorgestelde sakereddingsplan uit te stel. Les Matuson en Siphiwe Dongwana is in Desember aangestel om die sukkelende lugdiens te probeer red.

Die voorgestelde afleggingspakkette behels betaling van een week vir elke jaar wat gewerk is, ʼn kennismaand se betaling, die uitbetaling van verlof, ʼn dertiende tjek en ʼn terugwerkende salarisverhoging van 5,9% waarop verlede jaar al ooreengekom is.

Die departement het gesê hy sal die sakeredders inlig oor die betrokke vakbonde se besluit.

Die metaalwerkersvakbond Numsa, die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) en die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging (Saapa) het die aanbod verwerp.

Indien die sakereddingsplan nie aanvaar word nie, moet die lugredery gelikwideer word.

“ʼn Stem teen die plan gaan lei tot die uitgerekte en duur likwidasie van die lugredery, iets wat die NTM, Satawu, Ausa, Solidariteit en SAL-werkers sê ʼn lang en pynlike proses gaan wees,” het die departement gesê.

Die departement het gesê hy is nie in die posisie om te voldoen aan enige verdere “onbillike en gulsige” eise van sekere vakbondleiers vir bykomende voordele nie.

“Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die krediteure ʼn wakende oog gaan hou op hoeveel geld SAL bestee in teenstelling met dít wat hulle in die sakereddingsproses probeer herwin.”

Die vorige krediteurevergadering is op 25 Junie gehou en krediteure sou toe oor die voorgestelde sakereddingsplan stem. Die vakbonde het egter ʼn mosie van SA Airlink gesteun om die stem uit te stel. Die departement sê deur dit te doen het hulle hulself in wese geskaar by ʼn mededinger wat groot voordeel gaan trek uit SAL se likwidasie.

Die uitstel stel die sakereddingsplan, die afleggingsvoordele in die skeidingspakket en die behoud van 1 000 werksgeleenthede in gevaar, het die departement gesê.

“Sou die sakereddingsproses misluk, gaan die likwidasieproses van SAL beteken dat werkers ʼn maksimum van R32 000 per werker ontvang ás die geld beskikbaar is. Die betalings word eers gedoen ná die finale likwidasie en die goedkeuring van die verspreidingsrekening – ʼn proses wat tot 24 maande kan duur.”

Die departement het vroeër gesê die R2,2 miljard wat bewillig is vir die afleggingspakkette was die “beste beskikbare opsie op ʼn tydstip wat enorme geldelike eise en fiskale beperkinge” die regering in die gesig staar.

Die sakereddingspraktisyns gaan na verwagting Dinsdag die aangepaste sakereddingsplan voorlê. Die skeidingspakkette kan direk na afloop van die vergadering op 14 Julie betaal word.

Altesaam 75% van krediteure moet egter ten gunste van die plan stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Ek het nog nooit by SAL gewerk nie, maar het al wel op SAA gevlieg. Is daar ‘n manier wat ek ook ‘n pakket kan kry?

Jerry

Watse keuse het hulle nou regtig, pakket of niks!

Leon

Die ANC het die SAL op ‘n hart-long masjien. Hy is al breindood, maar hulle hou hom aan die gang. Sit die masjiene af en maak hom toe.
Ek was self by ‘n maatskappy wat gelikwideer is. Die werknemers kry niks. Hulle word self soos in ons geval aangesê om in te bataal vir die eienaar se sondes.

4ntj13

Die werklike vraag is eintlik: Wat is beter vir die SA publiek? Ons het nou elke sent nodig eerder as nog ʼn lugredery met manipulerende vakbonde wat hoofsaaklik regeringslui bevoordeel. Wat is dus GOEDKOPER?

“Dit is die voorloper vir die totstandkoming van ʼn lewensvatbare, volhoubare, mededingende lugredery wat geïntegreerde plaaslike-, streeks en internasionale vlugte kan verskaf,” …aan rondritserige, dom, stemwerfende y-en-sie??