Vier van ANN7 in hegtenis geneem

ANN7

Immigrasiebeamptes van die departement van binnelandse sake het Dinsdagmiddag glo nóg vier mense wat na bewering onwettig in die land is by ANN7 se televisie-ateljees in Johannesburg in hegtenis geneem.

Immigrasiebeamptes het verlede maand ook op die Johannesburg-ateljee van die televisiekanaal, wat met die omstrede Gupta-familie verbind word, toegeslaan ná ʼn wenk dat sommige van die werknemers nie behoorlike dokumentasie het nie.

ʼn Bron het aan African News Agency gesê beamptes het Dinsdag eers personeel ondervra en toe die ateljee met ʼn vrou en drie mans verlaat.

Jimmy Manyi, wat onlangs die Guptas se media-belange oorgeneem het, het die inhegtenisnemings volgens die bron glo probeer verhoed, maar nié daarin geslaag nie.

Manyi se maatskappy, Lodidox Management, het verlede jaar The New Age-koerant vir R150 miljoen gekoop en R300 miljoen vir ANN7 betaal.

Die voormalige regeringswoordvoerder is egter nou onder hewige druk nadat DStv vroeër aangekondig het dat hy nié sy kontrak ná Augustus vanjaar met ANN7 gaan hernu nie.

Die inhegtenisnemings van die ANN7-personeel kom nadat Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, Dinsdag aan verslaggewers in die parlement gesê het dat die Gupta-broers Ajay en Atul nié Suid-Afrikaanse burgers is nie omdat hulle glo geweier het om van hul Indiese burgerskap afstand te doen.

Belastinginspekteurs in Indië het Dinsdag ʼn klopjag uitgevoer op eiendomme wat aan die Gupta-familie behoort, in verband met die vermoede dat hulle geld na hul land van oorsprong terugbring het, het ʼn beampte gesê.

Volgens Times of India het Amrendra Kumar, ʼn senior inkomstebelastingbeampte in Uttar Pradesh,  in Indië, gesê die Gupta-broers, Ajay, Atul en Rajesh, word daarvan verdink dat hulle maniere vind om “onwettige geld”, wat hulle oorsee verdien het, na Indië te bring.

Lees meer oor die Gupta-familie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nicolaas ·

Ha ha ha Jimmy Manayi! Ha ha. Jou kapteins het die skip verlaat en jy sit met ‘n reuselening om te betaal vir ‘n koerant en tv kanaal wat niks werd is nie. Ek kry so lekker, die wiel draai ne pappa.

Meo ·

Geen mens sal hulle land afkeer vir SA burgerskap nie. Ek’t baie vinnig gesê as ek nie dualistiese een kry nie, vat asb my Saffa een weg, niemand het dit nodig nie.

Sêmaarnet ·

Meo, jy is bietjie oningelig – daar is 100de wat hulle burgerskap opgee om SA burgers te word, gaan my verstand ook te bowe, maar dit gebeur.

Alida ·

Natuurlik is hulle onwettig in die land. Toe hulle ingekom het was die regte persoon in beheer nl die Minister van Binnelandse Sake !!! Wie is verbaas?

Lerato ·

He he he. Die hoener haan hy kom huis toe om eiers te lê. Lekker Jimmy, lekker Gigaba, my gabba

Kaspaas ·

My tone krul van lekkerkry! Kry vir julle, daar is nog waar daai vandaan kom!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.