Vier van renosterhoring-sindikaat gevonnis

Argieffoto

Vier lede van ʼn beweerde sindikaat wat onwettig met renosterhorings handel dryf, is Donderdag in die Middelburg-streekshof gevonnis.

Die vier beskuldigdes was deel van ʼn groep van vyf verdagtes wat vroeër vanjaar tydens ʼn gesamentlike operasie van die Valke in die Vrystaat en Mpumalanga in hegtenis geneem is.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê die operasie het van 4 tot 15 Januarie 2018 gestrek. Volgens haar is daar tydens die operasie beslag gelê op een renosterhoring, ʼn olifanttand, dwelms en meer as R675 000 in kontant.

Yansen Fenc, ʼn Chinese burger, is skuldig bevind op aanklag van renosterhandel. Hy is ʼn boete van R60 000 óf ses maande tronkstraf opgelê, asook ʼn bykomende 18 maande tronkstraf wat opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat hy hom nie weer aan dieselfde oortreding skuldig maak nie. Die hof het ook beveel dat Fenc R1 miljoen vergoeding aan die Stop Rhino Poaching-projek moet betaal teen 28 Februarie 2018.

Liu Li Hong (32), ook ʼn Chinese burger, is skuldig bevind op ʼn dwelmaanklag en onwettige immigrasie. Sy is ʼn boete van R60 000 óf twee jaar tronkstraf opgelê vir die dwelmaanklag, en drie maande tronkstraf, wat vir vyf jaar opgeskort is, omdat sy onwettig in die land is. Sy is weer by die hof in hegtenis geneem, dié keer deur immigrasiebeamptes, en sal na haar tuisland gedeporteer word.

Joseph Albertus du Plessis (71) en sy vrou, Johanna du Plessis (55), is ook skuldig bevind aan renosterhandel en is elkeen ʼn boete van R20 000 óf twee jaar tronkstraf opgelê.

Sekgotodi het gesê die saak teen die vyfde beskuldigde, Deon Cornelius, ʼn wildsboer, is uitgestel tot 23 Maart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daan Erasmus ·

Ag nee. Hierdie sogenaamde “straf” is twak. Hoekom is hierdie die minimum en nie die maximum staf nie. Met sulke ligte staf word niemand afgeskrik nie.

A L ·

Dit is nogal klein boetes in vergelyking met ‘n rassistiese opmerking soos met Sparrow se geval. Die addisionele R1 miljoen maak wel sin.

Annie ·

Ek dink dis verkeerd dat hulle boetes moet betaal, hulle gaan dit net weer doen. Hulle moes tronk toe !!

Katvis ·

Belaglik! Hulle maak miljoene uit die horings. Hierdie is geen afskirk nie. Gaan doen iets in hulle land verkeed en jy gaan vrot in die tronk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.