Vier van Transnet vas oor koperdiefstal

Argieffoto

Vier werknemers van Transnet is Maandag in Pretoria in hegtenis geneem vir beweerde koperkabeldiefstal.

Die werknemers is verbonde aan Transnet se Koedoespoort-depot in Silverton en is nie die eerste verdagtes om in hegtenis geneem te word in verband met koperkabeldiefstal by dié depot nie.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, sê ondersoek is in Februarie ingestel nadat verskeie voorvalle van koperkabeldiefstal by die depot aangemeld is. ’n Ondersoek het later aan die lig gebring dat die koperkabels by skrootwerwe in Pretoria verkoop word.

Die vier verdagtes, almal tussen die ouderdomme van 34 en 40, sal na verwagting Woensdag in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Ramovha het verder gesê die Valke het in Februarie nóg drie verdagtes in die besit van vermoedelik gesteelde koperkabels ter waarde van R1,9 miljoen in hegtenis geneem.

Dié inhegtenisnemings het gevolg nadat die owerhede inligting ontvang het oor verdagtes wat gesteelde koperdraad by ’n skrootwerf in Hercules afgelewer het.

’n Vragmotor is naby die skrootwerf opgemerk en deursoek en daar is op koperkabels afgekom. Drie insittendes van die vragmotor, intussen geïdentifiseer as Andries Harmse (47), Oupa Maluleke (49), en Martins Fredericks Geyser (60), is op die toneel in hegtenis geneem.

Verdere ondersoek het die ondersoekspan na ’n kleinhoewe in Heatherdale naby Akasia gelei waar hulle ’n drom met opgerolde koperkabels gevind het wat vermoedelik ook by die Silverton-depot gesteel is. Frans Albert (59) en Andries Lombard (51), albei skrootwerfeienaars, het hulself later vergesel van hul regsverteenwoordigers aan die owerhede oorgegee.

Nog vier werknemers van Transnet is later daardie maand gedurende ’n opvolgoperasie in hegtenis geneem. Die werknemers is intussen geïdentifiseer as Mhlaba Dedrick (38), Mthembu Xolane (32), Keketso Mokoena (32) en Mokgobokwane Kgothatso (31).

Hulle het almal reeds in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat. Hulle sal na verwagting weer op 21 Mei in die hof verskyn.

Die Gautengse hoof van die Valke, genl.maj. Ebrahim Kadwa, het intussen die inhegtenisnemings as ’n deurbraak in die stryd teen koperkabeldiefstal bestempel.

“Staatsondernemings, munisipaliteite, en die telekommunikasie- en mynbousektor ondervind reeds jare lank onderbrekings in hul dienste weens die aanval op noodsaaklike infrastruktuur en diefstal van nie-ysterhoudende metale. In reaksie op hierdie wydverspreide vlaag van aanvalle op noodsaaklike infrastruktuur deur hoogs georganiseerde kriminele netwerke, het die regering, veral die wettoepassingsektor, die voorkoming en ondersoek daarvan geprioritiseer”, het Kadwa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ou bees ·

Seker ‘n begin wat goed is maar n mens kan nie anders as om te dink dis maar n klein puntjie van die ysberg nie. En dan ook hoe lank is dit nie al aan die gang nie?

Tiptol ·

Vreeslik om sulke nuus te lees waarby ons mense betrokke is. Ek kry skaam.

Oljetter ·

Mog hulle so lank toegeluit word dat hulle vergeet hoe die son lyk.

Hennie J ·

Stem saam Tiptol, n skande. Hoewel ek glo die reg moet sy gang gaan en die mense moet boet vir hulle dade, is dit vir my vreemd hoe vinnig die owerhede toeslaan wanneer daar witmense betrokke is.

Nie Verbaas ·

Hulle kan hulself maar net nie inhou om nie skelm en korrup te wees nie.

Carel Aaron ·

Plaas ñ verbod op die aankoop van koper en of koperkabels wat meer as 1kg weeg. Polisie moet dan daagliks die aankoop register monitor.
Dit sal net werk as daar n politieke wil is. Grensbeheer moet ookdan opgeskerp word.

Thelsa ·

Straf die Skroothandelaars. Hulle skep ‘n mark vir hierdie goed

Toetsie ·

Swart, pienk, wit of geel, sleg bly sleg!! Sluit toe, hul verdien dit almal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.