Vier vandag gevonnis na moord op Hannah

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashville Julius in die hof nadat hulle skuldig bevind is. Van Niekerk word hier geboei. Foto: Armand Hough/ANA

Die vier mans wat betrokke was by die ontvoering van en moord op Hannah Cornelius (21), ʼn student aan die Universiteit Stellenbosch, sal na verwagting vanmiddag in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis word.

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk is verlede week skuldig bevind aan moord, poging tot moord, verkragting, ontvoering en roof met verswarende omstandighede. Nashville Julius is skuldig bevind aan aanklagte van roof en ontvoering.

Cornelius en haar vriend, Cheslin Marsh, is omstreeks 03:00 op 27 Mei 2017 aangeval terwyl hulle in ʼn motor gesit en gesels het ná ʼn aand uit met vriende. Hulle is met ʼn mes en ʼn skroewedraaier gedreig voordat hulle na ʼn oop veld geneem is waar Marsh met bakstene aangerand en vir dood agtergelaat is.

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashville Julius in die hof nadat hulle skuldig bevind is. Julius word hier geboei. Foto: Armand Hough/ANA

Hy het egter die aanval oorleef, maar sy arm was gebreek en hy het verskeie ernstige kopbeserings opgedoen. Hy is doof in sy linkeroor as gevolg van die beserings wat hy opgedoen het.

Die aanvallers het daarna met Cornelius na ʼn afgeleë plek gery waar hulle beurte geneem het om haar te verkrag. Hulle het haar daarna naby ʼn bekende wynplaas in die gebied vermoor. Sy het twee meswonde in haar nek opgedoen en is met ʼn klip of ander stomp voorwerp teen die kop geslaan.

Flippie Booysen, ʼn plaasarbeider, was besig om pype reg te maak toe hy op Cornelius se liggaam afgekom en die polisie ontbied het.

Cornelius en Marsh se families het verlede week by die hof gepleit om die maksimum vonnis vir die beskuldigdes op te lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christa ·

Dis vreeslik wreed. Wat soek hulle daardie tyd van die nag nog opstraat. Ons land is so vervalle dat jy nie eers veilig gedurende die dag in jou motor is nie, wat nog te se snags. Sluit hulle toe vir 30 jaar elk.

Snowball ·

Hoop hulle word solank as wat hulle asem het, nooit ooit weer vrygelaat nie.

Sam Brookes ·

Bring die doodstraf asseblief terug. Hierdie gewedenaars en ander gaan nou vir die res van hul lewens op landsburgers se belastinggeld spons. Sedert die doodstraf weggeneem is het misdaad in die land die hoogte ingeskiet. Dit wys tog duidelik daarop dat die doodstraf ‘n afweermiddel is. Hierdie jong moordenaars sou twee keer dink om te doen wat hulle gedoen het. Nou gaan hulle tronk toe waar hulle ‘n heldeverering gaan kry en in die geledere van die bendes opgeneem gaan word. Al kom hulle nooit uit die tronk nie, gaan hulle hul bydrae lewer om hierdie geweld voort te sit deur hul betrokkenheid in bendegeweld wat vanuit die tronke gelei word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.