Die polisie in Limpopo het vier verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle Saterdag na bewering twee mans tydens ʼn begrafnis aangeval en vermoor het.
Maroela Media het vroeër berig gemeenskapslede van Tubatse in dié provinsie het glo ʼn oorlede vrou by die Mashifane-nedersetting-begraafplaas begrawe toe die groep skielik twee mans aangeval het. Van die begrafnisgangers het die mans met verskeie voorwerpe aangeval en gegooi voordat een begrafnisganger ʼn vuurwapen uitgehaal en hulle doodgeskiet het. Die groep het toe die mans se liggame aan die brand gesteek, hulle liggame in die graf gegooi en die oorlede vrou se kis bo-op hulle laat sak.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê ʼn taakspan is onmiddellik aangestel om die verdagtes vas te trek.
“Vier verdagtes, tussen 19 en 59 jaar oud, is ʼn paar uur ná die moord vasgetrek. Hulle is in hegtenis geneem op twee aanklagte van moord, die kwaadwillige beskadiging van eiendom, grafskending en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen,” sê hy.
Die verdagtes sal Maandag in die Praktiseer-landdroshof verskyn.
Ngoepe sê die polisieondersoek duur voort en meer inhegtenisnemings sal volg.
Motief?
Wat de joos gaan aan in Suid-africa? Die moord en doodslag is net angswekkend.
Hoeveel ander mense het nie al so “verdwyn” nie? Jy moet baie spesifieke inligting hê om op so ‘n plek vir ‘n lyk te gaan soek. Klink my amper almal was OK met die verloop van sake…