Vier vas ná gewelddadige Nelspruit-betogings

Betogings in Kanyamazane (14 Augustus 2018) (Foto: @nthandeka, Twitter)

Vier mans tussen die ouderdom van 18 en 43 het in die hof verskyn in verband met die gewelddadige betogings wat vandeesweek in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga gewoed het.

Kol. Mthsoli Bhembe, woordvoerder van die polisie, het gesê dít kom nadat die Emalahleni- munisipale kantoor in Phola naby Ogies Maandagaand aan die brand gesteek is.

In Kanyamazane buite Nelspruit is winkels wat deur buitelanders besit word sowel as ʼn drankwinkel geplunder. “In albei plekke is die paaie met brandende buitebande, klippe sowel as ander voorwerpe versper,” het Bhembe gesê.

Volgens hom is albei betogings as gevolg van ontevredenheid oor dienslewering.

Amon Khumalo (37), Ernest Mango (43), Ricardo Mondlane (22) en Fernando Sithole (18) is in verband met die betogings in Kanyamazane in hegtenis geneem en aangekla van openbare geweld.

Die vier het Dinsdag in die Kabokweni-landdroshof verskyn. “Khumalo is met ʼn waarskuwing vrygelaat en die ander drie bly in aanhouding vir verdere ondersoek,” het Bhembe gesê.

Al vier beskuldigdes moet op 12 September weer in dieselfde hof verskyn.

Maroela Media het Dinsdag berig die departement van onderwys het gesê skole is as gevolg van die betogings in dele van Mpumalanga reeds vir die afgelope twee dae ontwrig. Jasper Zwane, woordvoerder van die departement, het gesê agt laerskole en vyf hoërskole word geraak, veral gr. 12-leerders wat vir die eksamen moet voorberei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christa ·

hoekom net vier, wat van 400. Dan word die ekeles weer net vry gelaat. Hoekom nie ,n goeie voorbeeld maak van hulle sodat daar ie weer betoog en verwoes word nie.

Nonnie ·

Betogins is nou die nuwe nasionale sport van die nuwe SA…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.