Vier vas na kind in bendekruisvuur beland

Nahemiah Claassen (Foto: Facebook)

’n Man wat verbind word met Nahemiah Claassen (10) se skietdood, het homself Woensdag aan die polisie oorgegee uit “vrees” vir die gemeenskap.

Nahemiah is Maandag deur ’n dwaalkoeël in die kop getref nadat ’n skietgeveg tussen bendes in Parkwood in Kaapstad uitgebreek het.

Die gemeenskap is woedend aangesien Nahemiah die soveelste kind is om in die kruisvuur tussen bendes te beland. Volgens die familie was die verdagte bang vir wat die gemeenskap uit weerwraak aan hom sou doen en het hy homself eerder oorgegee.

“Ons het hom in die Mongrels-bende se gebied aangetref en vir hom gesê hy moet homself gaan oorgee, want die gemeenskap is agter sy bloed aan,” het Chad Crowley (24), ’n familielid van Nahemiah, gesê.

Die eerste verdagte wat in verband met Nahemiah se dood vasgetrek is, het Woensdag in die landdroshof in Wynberg op aanklagte van moord verskyn. Hy is ure na die skietvoorval deur die polisie vasgetrek.

Crowley sê dié man wat in die hof verskyn het, is twee maande gelede uit die tronk vrygelaat. Hy het glo klagtes van poging tot moord in die gesig gestaar.

Crowley en lede van die Parkwood-gemeenskap het buitekant die hof byeengekom en betoog teen die regstelsel wat volgens hulle die Claassen-familie in die steek gelaat het.

Intussen is nog twee verdagtes in aanhouding nadat hulle na bewering een van die ander verdagtes gehelp het om inhegtenisneming te ontduik.

ʼn Skietgeveg het omstreeks 11:00 Maandag tussen lede van een bende en ʼn bendelid van ʼn ander bende in Parkers Walk uitgebreek. Nahemiah het glo buite sy huis gespeel toe ʼn dwaalkoeël hom in die kop getref het.

Hy is in ʼn ernstige toestand na die Rooikruis-kinderhospitaal gehaas waar hy verdere mediese behandeling ontvang het. Hy was aan lewensondersteunende masjiene gekoppel wat Dinsdagmiddag afgeskakel is.

Crowley sê die familie sukkel om Nahemiah se dood te verwerk. ʼn Datum is vir die begrafnis is nog nie vasgestel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.