Vier vas ná moord op Welgelegen-man

Polisie en die District Group-veiligheidsmaatskappy by die moordtoneel (Foto: District Group, Facebook)

Vier verdagtes is Dinsdagoggend in Mitchells Plain vasgetrek in verband met die moord op die 58-jarige man van Parow in Kaapstad.

Maroela Media het vroeër berig die man se liggaam is Sondagaand in ʼn huis in Welgelegen in Parow gevind. Hy het verskeie steekwonde aan sy lyf gehad en sy hande en voete was vasgebind.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, sê drie van die verdagtes wat vasgetrek is, is minderjarig (onderskeidelik 16 en 17 jaar oud). Die vierde verdagte is ʼn 21-jarige vrou.

Die verdagtes sal na verwagting Woensdagmiddag in die landdroshof in Parow verskyn.

Twee veiligheidsbeamptes van die District Group-veiligheidsmaatskappy het die Sondagaand omstreeks 22:05 klagtes ontvang oor harde geluide in die Welgelegen-buurt, wat glo soos ’n motorongeluk geklink het.

Die beamptes is ’n rukkie later na ’n huis in Generaal Hendrik Schoeman-straat in Welgelegen ontbied, waar ’n voertuig oënskynlik skade aan die motorhuisdeur aangerig het. Met die beamptes te aankoms op die toneel het hulle gesien dat die motorhuisdeur van die binnekant af beskadig is.

Die beamptes het om die huis gestap. Die agterdeur was toe, maar nie gesluit nie. Hulle het by die huis ingegaan en opgemerk dat dit geplunder was. Daarna het hulle die man se liggaam gewaar. Hy het geen teken van lewe getoon nie.

Items van die oorledene is gesteel.

Die polisie se ondersoek gaan intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Hopelik sal die polisie die misdadigers vinnig vasvat. So hartseer.

Wondermaarnet ·

Kinders wat moor is ‘n euwel en gaan seker niks oorkom nie en in die sorg van hul ouers geplaas word om maar net weer te moor en roof.

Heinrich ·

Kinders so jonk wat moor, en Kaapstad, klink weer vir my soos bendes en dwelms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.