Vier gewapende mans van Kempton Park in Gauteng is Vrydag teen middernag deur die OR Tambo Internasionale Lughawe se veiligheidspanne in hegtenis geneem ná ʼn onderneming om dié lughawe veiliger te maak.
Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, sê veiligheidspanne van die lughawe was besig met ʼn patrollie toe hulle drie gewapende mans onder ʼn brug naby die OR Tambo-lughawe gewaar het.
Volgens Naidoo het die mans in verskillende rigtings gehardloop toe lede van die polisie hulle genader het.
Die polisie en die lughawe se veiligheidspanne kon egter daarin slaag om die drie verdagtes vas te trek. Nadat hulle ondervra is, het die polisie ʼn vierde man by sy huis in hegtenis geneem.
“Die polisie het beslag gelê op gesteelde goedere soos selfone, beursies, juwele en twee paspoorte,” sê Naidoo.
Volgens die polisie word die paspoorte verbind met rooftogte in Pretoria.
Maroela Media het vroeër berig die Amerikaanse ambassade het Amerikaanse burgers vandeesweek gewaarsku om ekstra waaksaam te wees wanneer hulle op die OR Tambo Internasionale Lughawe aankom en na hul hotelle of ander verblyf moet reis.
Die ambassade sê in die verklaring “verskeie reisigers” was al in gewapende rooftogte betrokke wanneer hulle op dié lughawe aankom, en dat sommige van dié mense ook in dié voorvalle geskiet of gewond is.
Fikile Mbalula, minister van polisie, het Vrydag tydens ʼn perskonferensie die onderneming gegee dat sekuriteit by die lughawe opgeskerp sal word om sodoende die veiligheid van reisigers te verseker.
OR Tambo ‘n nes van misdaad; smokkel en diefstal. iPhone wat vanaf Kanada gestuur is, het ek al die pad ge-“track” tot by OR Tambo, Witspos en terug na OR Tambo. Nadat hulle die faktuur aangevra het is dit skielik ‘weg’. Ek het met die EMEInr en die iTracker-app bepaal dat dit in Europa is?
En Amerika het sy burgers so pas gewaarsku …die Weste bly maar een voor !
Wel gedaan! Wens net hulle kan ook so skerp wees met die plaas aanvalle.
Ek vermoed die skade is gedaan: om nóú ‘n paar kriminele vas te trek gaan nie die buiteland se persepsie verander, of die VSA se waarskuwing ongedaan maak nie. Die koeël is deur die kerk.
Niks is meer snaaks nie. Ons land is poer in sy kannon in.
So, Donald Trump het die polisie in Suid Afrika opdrag gegee om veiligheid te verskerp.
Pieter ongelukkig besoek nie baie Amerikaners plase nie!