Vier vas ná roof by vulstasies

(Argieffoto: Activ-Michoko, Pixabay)

Vier verdagtes verskyn vandag (Vrydag) in die landdroshof in eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga in verband met twee gewapende rooftogte by vulstasies op die dorp.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring vier verdagtes is Donderdag in hegtenis geneem. Die verdagtes is tussen 22 en 43 jaar oud. Dié verdagtes is na bewering deel van ’n groep van vyf gewapende rowers wat onlangs by twee onderskeie vulstasies ingestorm het.

Volgens Hlathi het die eerste rooftog verlede Vrydagaand plaasgevind. Personeel en klante is tydens dié rooftog aangehou terwyl rowers kontant en sigarette ter waarde van R75 000 gebuit het.

Die tweede rooftog het Woensdagmiddag plaasgevind. ’n Veiligheidswag en personeellede is in dié voorval aangehou voordat rowers met sigarette ter waarde van R6 000 en ander persoonlike besittings op die vlug geslaan het.

Volgens Hlathi is die twee voorvalle in ’n ondersoek met mekaar verbind voordat die verdagtes in hegtenis geneem is. Van die gesteelde goedere is ook reeds gevind.

“Die inhegtenisneming is deel van die polisie se pogings om diegene wat die gemeenskap terroriseer te verwyder. Die polisie kan nie die moontlikheid uitsluit dat hierdie verdagtes verbind kan word aan ander rooftogte in Witbank nie,” het lt.genl. Mondli Zuma, polisiehoof in Mpumalanga, gesê.

Die verdagtes staan tereg op aanklagte van gewapende roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boortor ·

Daardie sigarette is baie geld werd nou! Dit gaan al meer gebeur. Ek wil sien hoe stop julle dit. Ek weet hoe! Hef die beperkings op die wettige verkoop van drank en sigarette op! Maklik soos dit!

SomeOne ·

hoop net die klomp word swaar gestraf, nie r100 borgtog en dan verdwyn hulle net om weer op ‘n ander dorp moeilikheid te maak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.