Vier vas ná stroping by WK-reservaat

Drie van die dooie renosters (Foto: Verskaf)

Die verdagtes wat glo ʼn hand daarin gehad het om vier renosters, onder wie ʼn dragtige koei, by die Inverdoorn- private wildreservaat in die Wes-Kaap te stroop, is in hegtenis geneem.

Sers. Wesley Twiggs, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die vier vermeende stropers vasgetrek is, maar besonderhede daaroor kan nog nie bekend gemaak word nie.

Hulle sal wel eersdaags in die Ceres-landdroshof verskyn sodra hulle amptelik aangekla word.

Searl Derman, eienaar van die Aquila Collection en die reservaat waar die stropery plaasgevind het, sê die verdagtes is kort ná die voorval opgespoor en vasgetrek.

Maroela Media het vroeër berig dat vier renosters verlede week in die reservaat dood in die veld aangetref is. Een van die gestroopte renosters was boonop dragtig, terwyl ʼn ander een ʼn nagemaakte horing uit veselglas gehad het. ʼn Vyfde renoster is ook later lewend, maar met ernstige beserings opgespoor.

Die polisie, Cape Nature, private ondersoekers en die forensiese ondersoeker Wayne Stoltz – wat in 2011 gehelp het om ʼn stropingsvoorval by die Aquila- private reservaat op te los – het dag en nag gewerk om die verdagtes vas te trek.

“Ons hoop dat daar genoeg bewyse ingewin word om te verhoed dat die hof die verdagtes op borgtog vrylaat,” sê Derman.

“Almal wat daarby betrokke is, werk steeds hard daaraan om die saak teen die vermeende stropers te versterk sodat geregtigheid kan geskied.”

Gebede vir beseerde renoster

Die beseerde renosterkoei. (Foto: Inverdoorn/Facebook)

Die vyfde renoster, wat daarin kon slaag om die vermeende stropers se greep te ontduik, sterk aan nadat sy in die gesig geskiet is.

Dié renosterkoei is saam met die vier ander renosters in die reservaat geteiken, maar kon ondanks haar beserings wel ontsnap.

Derman sê senior veearts Louis Greeff het Sondag die renoster onder verdowing en op ʼn drup geplaas om haar beserings te ondersoek en ʼn plan vorentoe te beraam.

“Dit is traumaties om te sien hoe sy probeer water drink. Die water loop net uit haar mond en neus uit,” sê hy.

“Maar ons is hoopvol dat sy sal deurtrek en ons gaan voort om daarvoor te bid.”

Derman het vroeër gesê dat gesigrekonstruksie dalk sterk oorweeg moet word vir die renoster, maar besonderhede sal eers volg nadat die renoster geopereer is.

“Dankie aan almal wat deurlopend boodskappe van ondersteuning aan die span stuur. Dit motiveer almal om deur te druk en toegewyd vol te hou met ons pogings om haar te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dries ·

Hoop die hofsaak is spoedig en dat hulle baie swaar gestraf sal word.

Shakespeare ·

Gaan die kriminele nou ‘n ministerpos kry ? Vra maar net.

Rudolf ·

Ek moet sooooo ‘n wag voor my mond plaas en nie verbaal PRESIES se wat ek dink en die oortreders moet oorkom nie!!!

Catherina ·

Stropers kry te min vonnis. Mens wil hulle iets aandoen
Kry die diere so jammer. Weerloos

Di ·

So bly die spul is gevang. Dink mos hulle gaan altyd daarmee wegkom, jou sondes haal jou wel in. Hoop hulle word so lank toegesluit dat hulle daar sit tot hulle stokoud is. Hoop van harte nie die spul word bortgtog toegestaan nie, dan is hulle verseker weg. Vermoed dat van hulle dalk weer onwettig in die land is of deel is van ‘n “inside job”

Grassie ·

Baie geluk en groot dankie aan die mense wat die uitvaagsels gevang het. Ek glo die Skepper sal julle op Sy manier beloon omdat julle Sy skepping help oppas.

Gerra ·

Tyd dat die howe daadwerklik optree en op een of ander manier die vonnisse van hierdie plunderaars en verwoesters tot lewenslank vonnis. So nie bring dit nie veel hoop vir die renosters wat oor is nie.

JohanR ·

Sal hulle noe lewens-lank tronk toe gaan, want dit is wat hier moet gebeur. Die land is moeh, siek, sat en dik dat diere soos die renosters uit gerooi word!

Christina ·

Dis wonderlik dat hulle so omgee vir die diere. Wonder of daar dan nie vir plaasmoorde ook so hard gewerk en ondersoek kan word nie.

Ria ·

Dis my wens dat hulle n straf opgelê word wat hulle permanent as moordenaars sal isoleer

Carolina ·

Ons wil wees wie is agter die stropery, kry die “kingpin” !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.