Vier vas ná vragmotors op snelweg brand

‘n Vragmotor wat op die N3 aan die brand gesteek is. Foto: Twitter

Vier vragmotorbestuurders is Sondag op die N3 in die Van Reenen-gebied in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem nadat hulle hul vragmotors gebruik het om die snelweg in albei rigtings af te sper.

Gedurende die betoging is twee vragmotors ook aan die brand gesteek. Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê beamptes het vinnig gereageer en hulle na die toneel gehaas om die situasie te bestendig. “Die vier vragmotors wat gebruik is om die N3-Suid en -Noord af te sper, is deur die polisie geskut,” sê Mbele.

Die protesoptrede het swaar verkeersopeenhopings veroorsaak en motoriste moes noodgedwonge van alternatiewe roetes gebruik maak. Die pad is vanoggend in die vroeë oggendure weer oopgestel.

Die verdagtes, tussen 28 en 38 jaar oud, sal môre in die Ladysmith-landdroshof verskyn op aanklag van openbare geweld.

Intussen het Blade Nzimande, minister van vervoer, die jongste protesoptrede deur vragmotorbestuurders ten sterkste veroordeel. Nzimande het Vrydag in Durban met die leierskap van die Suid-Afrikaanse vragmotorbedryf vergader om te luister na die uitdagings wat die sektor in die gesig staar.

Vragmotorbestuurders neem sedert verlede jaar kort-kort aan betogings deel in protes teen die aanstel van buitelanders teen laer loontariewe.

“Dit is jammer dat die [jongste] protesoptrede van die vragmotorbestuurders nie in ooreenstemming is met die ooreenkoms en gees van ons vergadering Vrydag nie,” het Nzimande gesê. “Dít is niks anders nie as onderhandelinge te kwader trou deur sommige van die leiers van die vragmotorbestuurders.”

Die minister het gesê die partye het by die vergadering ooreengekom dat sy departement ʼn span op die been sal bring waarby ander departemente, waaronder binnelandse sake en arbeid, asook die bedingingsraad en verteenwoordigers van die bestuurders, betrek sal word.

Nzimande het gesê die regering is vasbeslote om hom deur die relevante wetgewing te laat lei om dié probleem op te los wat tans die vragmotorbedryf kniehalter. Hy het bygevoeg die regering sal nie wetteloosheid, anargie en sabotasie deur vragmotorbestuurders duld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Koos de Meyer. ·

As hulle nie hulle sin kry nie brand hulle. So sal die anargie voortgaan want hulle kom niks oor nie. Ongelukkig sien die buiteland wat hier aangaan,wie wil belê in ‘n land van anargie, brandstigting, arbeids onrus en so meer.

wilhelm ·

Die optrede van die drywers is betreurenswaardig.Aan die anderkant moet ek sê dat hulle tans die ekonomie se wiele is en daar met meer empatie na hul griewe geluister behoort te word.Ek ry gereeld met van hulle saam en weet van die harde werksomstandighede wat hulle moet deurmaak.Die situasie het ontstaan omdat ‘n swak regering Afrika se beste spoorwegbedryf vernietig het.Kry die spoorwegstelsel weer op dreef,verminder die lorries en baie probs opgelos.

Fanis ·

Dit is van te veel luister na griewe wat alles so ten gronde gaan. Die stert swaai die hond en die “demands” raak al groter.

Fanis ·

Dit is van te veel luister na griewe wat alles so ten gronde gaan. Die stert swaai die hond en die “demands” raak al groter.

Karel ·

Die probleem is dat die vragmotors nie aan die bestuurders behoort nie. Net so goed of jou huishulp brand jou huis af indien sy ‘n grief het oor haar werksomstandighede.
Die IK’s is nie lekker nie.

shark ·

alweer n span om te ondersoek. my goeiste kan die ministers nie hul werk self doen nie..

Carin ·

Niemand hoef in so geval dan verantwoordelikheid te aanvaar nie.

Maljan ·

Die buitelanders staak nie, werk vir minder, breek en brand nie en gehoorsaam die wet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.