Vier vas oomblikke nadat winkel beroof word

Die vier verdagtes kort nadat hulle in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Die vier verdagtes kort nadat hulle in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Vier gewapende verdagtes is Dinsdag buite Viljoenskroon in die Vrystaat vasgetrek, oomblikke nadat hulle glo ʼn klerewinkel op die dorp beroof het.

Lt.kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn vrou het omstreeks 14:00 by die Viljoenskroon-polisiestasie ingehardloop en gesê die winkel word beroof. Twee polisiebeamptes wat aan diens was, sers. Khitshane Mokgothu en konst. Tselane Maine, het dadelik in Maine se persoonlike voertuig gespring om na die toneel te jaag omdat polisievoertuie nie by die stasie beskikbaar was nie.

“Die beamptes het die verdagtes se wit BMW 3-reeks motor op die R76 in die rigting van Kroonstad gesien en hulle agterna gesit. Die Kroonstad-polisie is intussen as versterking uitgeroep,” het Mbambo gesê. Ongeveer 10km verder kon Mokgothu en Maine daarin slaag om die verdagtes te laat stilhou en hulle het dadelik al vier in hegtenis geneem.

“Die polisie het op die verdagtes se wegkommotor, drie vuurwapens, waarvan die reeksnommers afgevyl was, ammunisie, moetie, ʼn bedrag kontant en verskeie selfone, wat uit die winkel gesteel is, beslag gelê,” het Mbambo gesê.

Die vier verdagtes, tussen die ouderdomme van 25 en 42, sal binnekort in die Viljoenskroon-landdroshof verskyn op aanklagte van sakeroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pietie ·

Skitterend! Dis soos dit hoort!. Dankie, polisie van Viljoenskroon, dat julle julle werk doen. Sulke polisie sal ek ook ondersteun!

Nenna ·

Veels geluk sers Mokgothu en Maine. Julle het nie geskroom om julle werk te doen nie.

Anoniem ·

Heelduidelik het die man met die geel hemp nie die woorde agterop sy hemp verstaan nie, goeie werk polisie!

Scalla ·

Knap gedaan, hoop die een wat sy persoonlike voertuig gebruik het kry die nodige erkenning, wys jou net dit kan gedoen word.

Irene ·

Ag dankie tog dat daar polisie is waarop on kan steun baie dankie vir flink werk

Jan ·

Veels geluk SAPD van Viljoenskroon. Knap gedaan. En nie ‘n banghaar op die koppe nie. Hoop een van die boere in die distrik het ‘n los skapie wat hy sommer daar by die polisiestasie gaan braai. Met eish ja!!!

cobusp ·

Wat dit nog meer merkwaardig maak is dat die polisieman in SY EIE VOERTUIG gespring het met sy kollega en hulle agterna gesit het……………Ja dus verblydend, die skapie idee kan werk en so n Lemonadetjie vir die dors…….Hopelik kry die manne gou bevordering want hulle wil en hulle kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.