Vier vas oor diefstal by selfoontorings

Argieffoto

Vier persone is in hegtenis geneem in verband met diefstal by selfoontorings in die Oos-Kaap.

Kapt. Hazel Mqala, woordvoerder van die polisie, het gesê vinnige reaksie deur die Oos-Londense honde-eenheid en Red Alert-veiligheidspersoneel het daartoe gelei dat beamptes beslag gelê het op twee Nissan NP200-voertuie, twee stelle meestersleutels, ʼn batteryaangedrewe hoeksnyer, glimbaadjies, vier slimfone en gereedskap wat gebruik word om onwettig toegang tot selfoontorings te bekom.

“Beamptes van die honde-eenheid het Saterdag reageer toe ʼn alarm by ʼn selfoontoring in Colleylaan in Cambridge-Wes geaktiveer is. Daar is vroeër die dag reeds by ses selfoontorings ingebreek. In sommige van die gevalle het ooggetuies gesê hulle het ʼn Nissan NP200-voertuig opgemerk,” het Mqala gesê.

Met hul aankoms by die toneel het beamptes twee Nissan NP200-voertuie opgemerk en verdagte persone was doenig by die vraghouer. Beamptes kon een van die voertuie vas parkeer. “Drie verdagtes het dadelik oor die laerskool se terrein weggehardloop.”

Red Alert-veiligheidsmaatskappy het intussen ook by die toneel aangekom en die beamptes bygestaan om vier persone in hegtenis te neem.

Die een Nissan NP200, waarmee van die verdagtes gevlug het, is later verlate aangetref in Vianweg.

Die vier verdagtes, tussen 28 en 34 jaar oud, staan tereg op aanklag dat hulle met infrastruktuur gepeuter en dit beskadig het. Hulle sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Oos-Londen verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.