Vier vas oor egpaar se moord

Argieffoto: Kent Williamson

Vier verdagtes sal Maandag in die Maphumulo-landdroshof in Ilembe in KwaZulu-Natal verskyn in verband met die grusame moord op ʼn egpaar.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê die egpaar en hul voertuig is Woensdagaand vermoedelik ontvoer. “Beamptes van die Ilembe-taakspan het Donderdag berigte opgevolg oor die egpaar se verdwyning. Hulle het die egpaar se motor ʼn paar kilometer van hul huis opgespoor. Die polisiebeamptes het die verdagtes agternagesit toe hulle met die egpaar se motor weggejaag het. Die bestuurder van die motor het egter beheer verloor oor die motor en hulle het ʼn ongeluk gehad. Die verdagtes het in die bosse in gevlug.”

Die beamptes het na die egpaar begin soek en hulle is dood aangetref in Wolongo-reservaat. “Hulle is geskiet en met ʼn hamer aangeval. ʼn Vierpondhamer is langs die oorledenes aangetref. Twee sake van moord is by Nsuze-polisiestasie aangemeld vir ondersoek.”

Vier verdagtes, tussen 25 en 46 jaar oud, is Vrydag aangekeer. “Hulle het ʼn vuurwapen, kontant en die slagoffers se selfone in hul besit gehad. Hulle staan tereg op twee aanklagte van moord, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en vermoedelik gesteelde eiendom.”

Die vrou het na bewering Woensdagaand ʼn oproep ontvang van ʼn vrou wat stokvelgeld wou oplaai wat aan haar verskuldig is. “Die egpaar het hul huis verlaat en die familie het kort daarna ʼn oproep ontvang van ʼn onbekende persoon wat ʼn losprys geëis het vir die egpaar. ʼn Saak van ontvoering is by die Nsuze-polisiestasie aangemeld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.