Vier vas oor gekaapte vrag sigarette

sigaretteVier mense is Woensdag in hegtenis geneem nadat hulle glo probeer het om ʼn vragmotor vol sigarette te kaap.

“Die verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die kaping van ʼn afleweringswa in Heidelberg in Gauteng,” het kapt. Kabelo Marumo, woordvoerder van die polisie gesê. “Hulle het ʼn vuurwapen op die bestuurder gerig en met die vrag vol sigarette weggery.”

Die polisie het ʼn wenk ontvang en is na Dawn Park waar die vier mense glo besig was om die gesteelde goedere af te laai en in ʼn ander vermoedelik gekaapte voertuig te laai. “Al vier die verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem,” het Marumo bygevoeg. “Die polisie het ook beslag gelê op twee ongelisensieerde vuurwapens met lewende rondes ammunisie en drie voertuie.”

Die mans sal binnekort in die landdroshof in Heidelberg verskyn op aanklag van die besit van gesteelde goedere, onwettige besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en gewapende roof.

Die polisie sal ook ondersoek instel om te bepaal of die mans aan ander sake verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.