Vier vas oor lyk in veld

Argieffoto

Argieffoto

Vier mans is naby Brits in hegtenis geneem in verband met die dood van ʼn man in Marikana, het die polisie in Noordwes gesê.

Sers. Kealeboga Molala, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn man is Dinsdagoggend dood aangetref in Mmaditlhokwa in Marikana.

“Volgens die beskikbare inligting het ʼn verbyganger Maandag gesien hoe die liggaam van Tshepong Dilwane (36) in ʼn veld in Mmaditlhokwa afgelaai is. Die verbyganger het die motor se nommerplaat waargeneem en die polisie van die voorval in kennis gestel,” het Molala gesê.

“Die polisie is na die toneel en kon nie die aand iets vind nie. Lede van die Rustenburgse honde-eenheid het met die soektog kom help en ʼn liggaam met steekwonde is die Dinsdagoggend gevind. Die motor is nagespoor en gevind by ʼn huis in Letlhabile waar twee verdagtes in hegtenis geneem is.”

Volgens Molala is die ander twee verdagtes Woensdag in hegtenis geneem. “Die motief vir die moord is in die stadium onbekend.” Die vier verdagtes sal binnekort in die Marikana-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.