Vier vas oor ma, baba se ontvoering

Argieffoto

Argieffoto

Vier mans is in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn vrou en haar babadogtertjie in Diepsloot, noord van Johannesburg, ontvoer het.

Ao. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die vrou en haar baba het saam met die mans vanaf Zimbabwe na Brits in Noordwes, waar haar man woon, gereis. “Die aanvanklike vervoerkoste wat die mans geëis het, was glo R300,” het Mavimbela gesê. “Die vrou voer egter aan die tarief is ewe skielik na R1 500 verhoog voor sy haar eindbestemming bereik het.”

Die vrou is na Diepsloot geneem omdat sy nie die bedrag kon bekostig nie. Sy is glo sedert Donderdag daar in ʼn plakkershuis aangehou en slegs koeldrank gegee om te drink.

“Die mans het glo die vrou se man geskakel en gedreig dat as hy nie die R1 500 betaal nie, hy nooit weer sy vrou en dogtertjie sou sien nie,” het Mavimbela gesê.

Die man kon ook nie die bedrag bekostig nie, en het die polisie in kennis gestel van sy situasie. Die baba was ontwater toe die polisie by die plakkershuis opgedaag het. “Die polisiebeamptes het hul eie geld gebruik om kos te koop om te verseker dat die ma en baba behoorlik gevoed word, soos deur paramedici aanbeveel is. Hulle is daarna na die pa se huis in Brits geneem,” het hy bygevoeg.

Die mans, almal tussen 28 en 43 jaar oud, moet binnekort in die Randburg-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Asjas ·

Baie dankie aan die Polisie manne wat uit hul eie sakke vir die kleinding kos gegee het. Jul vinnige diens het ook heel moontlik twee lewens gespaar. Kan ons nie sulke Polisie beamptes se name en gesigte bekend maak en hulle behoorlik dankie se vir hul goeie werk nie? Mense is baie negatief teenoor die Polisie, almal is nie korrup nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.