Vier vas oor ‘miljoene rande se dwelms’

Die span het die huis deursoek en op toerusting afgekom wat vermoedelik gebruik word om Mandrax te vervaardig. Foto: Valke

Vier verdagtes sal Maandag in die Roodepoort-landdroshof verskyn nadat ʼn span van die Valke Vrydag op ’n geheime dwelmvervaardigingslaboratorium in Braamfischerville, Soweto, toegeslaan het.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het dit as ʼn massiewe dwelmklopjag bestempel en gesê die dwelms waarop beslag gelê is, het ʼn straatwaarde van miljoene rande.

Volgens Ramovha het lede van die Valke se Narkotikaburo (Saneb), beamptes van misdaadintelligensie en beamptes van die Gautengse honde-eenheid op inligting gereageer oor die geheime laboratorium. Die span het die huis deursoek en op toerusting afgekom wat vermoedelik gebruik word om Mandrax te vervaardig.

Volgens Ramovha is op ʼn groot hoeveelheid Mandrax-tablette, ander chemikalieë en toerusting beslag gelê. Vier verdagtes, tussen 35 en 58 jaar oud, is op die perseel in hegtenis geneem.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het die beamptes geloof vir hul onverpoosde stryd teen onwettige dwelms en die oopvlek van dwelmlaboratoriums in die land. “Hierdie is ʼn aansienlike beslaglegging en het verhoed dat kilogramme Mandrax op die strate en in die hande van die publiek beland,” het Lebeya gesê.

Hy het die publiek aangemoedig om enige inligting oor onwettige dwelmhandelaktiwiteite by die owerhede aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

leser ·

dis nou wragtig pragtig, wat help dit in elk geval, more is hulle uit op borg en begin maar weer op ‘n ander plek
ek en ek glo duisende ander vra dat borg nie toegestaan word nie

leser ·

ek sien op die internet dat CADMACH vervaardig die masjiene wat tablette druk, waarom keer die owerhede nie die verkoop aan imbisiele wat mense se lewens verwoes

Afrikaner ·

Digby ons dorp het ‘n jaar of so gelede ‘n plakkerskamp onregmatig in die bosse ontstaan langs ‘n grondpad uit, ons sien nou een dag ‘n kennisgewing dat daar word nou ‘n groot nedersetting (township) beplan tussen die kleinhoewes en ander besighede teen die spruit af, daar waar die plakkers nou is.

Lang storie kort, die mense in die omgewing kla want hulle sien deurlopend kinders en ander mense by die ingang van die grondpad, wat met karre daar stilhou, of wat sommer te voet daar aankom en met mense wat uit die bos kom interaksie het. Hulle het ‘n idee daar is ‘n dwelmnes en het die polisie al laat weet, maar hulle doen niks. Ek wil my verstout om te sê dit gaan by hordes ander plekke in ander dorpe en stede net so.

Dan wil ek aan Cyril beduie, die nuwe land is al tot op die been getransformeer. Hulle kan tien voudig meer polisie aanstel en dit sal nie ‘n vaal kol maak nie, want die mense het nie werk nie, dan wend hulle hulle tot dwelms en misdaad. En natuurlik is daar nie groei in die dorpe en stede nie, so die nuwe aankomelinge sit vir kwaadgeld rond. Buiten dit is hordes van hulle ongeskoold.

Cyril en die ANC regering het ‘n onveilige land vir ons geskep.

Gert van Wierdapark ·

Al hoe meer swerkaters gevang sal kan word, is om “Wenkgeld” vir verklikkers te gee. Met lede van gemeenskappe wat dikwels van sulke nesse weet/vermoed, is dit geld wat goed aangewend kan word in die stryd teen dwelms. ROOK hulle dus UIT!

Tobie Klarens ·

En nou sal ander dwelmhandelaars jubel. Hulle sal daardie gekonfiskeerde dwelms nou teen n groot afslag, by die polisie koop

Karolis ·

MM, ‘n vinger het gespring.
Par3, die afkorting moet lees Sanab.

Mariné Lourens ·

Dagsê Karolis

Dankie vir jou kommentaar. Die afkorting ‘Saneb’ is korrek. Dit staan vir die “South African Narcotics Enforcement Bureau”. Lees gerus hier die Suid-Afrikaanse Polisiediens se amptelike verklaring oor die vestiging van Saneb.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Karolis ·

Maar hierdie is ‘n Afrikaanse koerant berig en dit was al die jare Sanab.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.