Vier vas oor olifanttande

Vier persone is in aanhouding in twee afsonderlike sake wat verband hou met die besit van olifanttande.

Johannes Maswanganye (41) en Justice Mbobi (29) het Maandag in die Standerton-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding, het kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê.

“Die twee mans is gesoek in verband met ʼn rooftog wat op 28 November 2019 op ʼn plaas in Standerton plaasgevind het. Hulle is by ʼn huis in Kriel in hegtenis geneem waar polisiebeamptes op die olifanttande afgekom het.”

Lede van die Valke se eenheid in Secunda wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek is na die toneel ontbied. “Hulle het ondersoek ingestel en nege olifanttande is op die toneel gevind. Die saak teen Maswanganye en Mbobi is tot 12 Desember uitgestel vir ʼn formele aansoek om borgtog.”

Johan Cox (41) en Hendrick Bernardus Elvis (32) is intussen op ʼn soortgelyke aanklag in hegtenis geneem. Die twee mans het op 6 Desember in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding.

“Cox en Elvis is op 4 Desember 2019 deur die Valke se wildhandel-eenheid in hegtenis geneem in samewerking met lede van Nelspruit se polisie. Die polisie het inligting ontvang dat die twee persone olifanttande in Nelspruit in hul besit het.”

Die gesamentlike span het op die wenk reageer en ʼn soektog uitgevoer. “Daar is beslag gelê op ses olifanttande en vyf vuurwapens wat vir ballistiese toetse gestuur is. Elvis en Cox sal na verwagting binnekort weer in die Nelspruit-landdroshof verskyn vir ʼn formele aansoek om borgtog.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.