Vier vas oor renosterhorings en vuurwapen

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Vier mense is Dinsdag naby Hazyview in Mpumalanga in hegtenis geneem nadat twee renosterhorings, vuurwapens en renosterstropingstoerusting in hul besit gevind is.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het inligting ontvang oor mense wat glo renosterhorings in hul besit het. Lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid, honde-eenheid en nasionale ingrypingseenheid, asook ʼn helikopter van die Kruger-wildtuin, het vinnig op die inligting reageer en op die betrokke huis in die Calcutta-gebied toegeslaan.

“Toe die polisie voor die hek stop, het ʼn man in ʼn wit Ford Ranger-bakkie uit die voertuig gespring en ʼn plastieksak in die bure se erf gegooi voordat hy probeer weghardloop het. Hy is in hegtenis geneem en twee renosterhorings is in die plastieksak gevind,” het Hlathi gesê.

Die polisie het daarna die huis deursoek en op ʼn jaggeweer met ʼn knaldemper in die plafon bo die gang afgekom. Beamptes het ook tydens die soektog ammunisie vir ʼn .458 kaliber vuurwapen, ʼn klein byl en twee messe met vars bloed daarop gevind. “Nog twee mans en ʼn vrou wat in die huis was, is ook in hegtenis geneem,” het hy gesê.

Volgens Hlathi sal die vier verdagtes op aanklagte van die besit van renosterhorings en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie tereg staan. Hulle sal binnekort in die Calcutta-landdroshof verskyn.

Die inhegtenisneming volg op ʼn operasie van twee dae die afgelope naweek toe die polisie nege vermeende stropers aangekeer en op vier swaarkalibergewere beslag gelê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jean ·

Gee hulle asb die swaarste straf moontlik. Erens moet daar nou ‘n voorbeeld van hierdie mense gemaak word wat die diere wreed martel en vermoor vir hulle horings.

pieterdp ·

Wat my die meeste bekomerd is dat nie lank gaan neem om die renosters totaal uit te wis nie.

Wat gaan oorbly is net gedagtes en prentjies.

Annie ·

Hulle sal seker op R500 borg vry wees … ons het mos 2 groepe wetgewings … wit en swart

Cherokee ·

Wat steeds ‘n geweldige probleem is, is dat die allergrootste deel van hierdie tipe berigte gaan oor opvolg operasies en relatief min is voorkomend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.