Vier vas oor ‘beplande renosterstropery’

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Vier vermeende renosterstropers is Woensdagmiddag in Limpopo hegtenis geneem.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die polisie se renostertaakspan het omstreeks 15:30 ʼn voertuig op die Orpen-pad naby Hoedspruit afgetrek, nadat hulle ʼn wenk ontvang het. Die 22-jarige bestuurder is in hegtenis geneem en die polisie het op ʼn ongelisensieerde jaggeweer met ʼn knaldemper en ammunisie beslag gelê.

“Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van nog drie verdagtes in Nelspruit,” het Otto gesê. Die vier verdagtes, Cassie Steyn (22), Gilbert Chalmers (22), Phillip Ndlovu (38) en Fanaloti Lekhuleni (24), het Donderdag in die Hoedspruit-landdroshof verskyn op aanklag van sameswering om renosters te stroop en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Chalmers en Steyn is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat, terwyl die borgtogaansoek van die ander twee verdagtes later sal voortgaan.

Die saak is tot 28 September uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Irene ·

Die gemors. Dankie Vader hulle is gevang. Wat mens nie alles sal doen vir geld

Andre ·

Dit grens aan verraad , dat ons eie mense daarby betrokke is . Geld het hulle baas geword.

Anoniem ·

Aitsa! Wat my ekstra bly maak is die woordjie “beplan”. Dit beteken die stropers is gevang nog VOORDAT nog ‘n renoster in die slag gebly het. Verbeel ek my, of word daar deesdae meer stropers gevang nog voordat die renoster gestroop is? GOEIE WERK!!!

Mamparra ·

Maak die handel in horings wettig. Dan kan die Pieter van Zyls en die regering hulle kluise vol horings verkoop. Dan is dit nie nodig om die diere te dood te maak nie. Gooi klomp horings op die mark en verminder die waarde in so mate dat stroop nie meer winsgewend is nie.

V van Jaarsveld ·

Ja dis nie net anderskleuriges wat renosters skiet nie alle soorte is agter geld aan. Dis n skande!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.