Vier mans is in die Mkhondo-omgewing (Piet Retief) in Mpumalanga aangekeer ná die dood van twee mans vroeër vandeesweek op ʼn plaas in die omgewing.
Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê volgens die polisie se inligting spruit die gebeure uit die aanvanklike beweerde ontvoering en aanranding van ʼn man. Ander inwoners in die gebied het daarvan te hore gekom en het die man probeer red.
“ʼn Skietery het glo uitgebreek en twee mense is doodgeskiet,” sê Mdhluli.
Volgens die polisie is die man wat vroeër na bewering ontvoer is, na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.
Die vier mans wat glo by die twee se skietdood betrokke was, is in hegtenis geneem nadat die polisie ontbied is.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Vusi Shongwe, het die inhegtenisnemings verwelkom. Volgens Shongwe se weergawe van gebeure was die twee slagoffers wat doodgeskiet is deel van ʼn vreedsame betoging teen die beweerde misbruik van plaasbewoners op die Bampoen-plaas.
Die betrokke boer is glo een van die verdagtes wat weens die skietery aangekeer is.
Die LUR het die voorval ten sterkste veroordeel en sê dit is “hoog tyd dat plaaseienaars, ongeag hul velkleur, die regte van alle lede van die boerderygemeenskap respekteer”.
Shongwe sê ook mense het mekaar nodig en dat plaasbewoners eweneens die reg het om hul stemme te laat hoor wanneer hulle te na gekom voel.
“Ons Grondwet laat alle mense toe om hul misnoeë te kenne te gee oor enige kwessie wat hulle raak. Daar is niemand wat op ʼn betoging kan reageer deur ander dood te maak nie. Die polisie moet onverpoos werk om te verseker geregtigheid geskied,” sê Shongwe.
“Die land vier 27 jaar van demokrasie en ons wil hê alle gemeenskappe moet eensgesind saamleef, swart of wit.”
Die LUR sê boere moet die regte van hul werkers en plaasbewoners respekteer en dat die voorval verdere geweld kan veroorsaak. “Dit is hoekom die regering alles moontlik doen om te verseker daar is vrede, samehorigheid en bestendigheid in boerderygemeenskappe deur inisiatiewe soos die landelike veiligheidstrategie.
Hy het ook ʼn beroep vir kalmte in die omgewing gedoen terwyl die saak ondersoek word en het die departement van justisie gevra om weens die erns van die saak nie borgtog aan die vier toe te staan nie.
Mdhluli sê verdere aanklagte kan moontlik teen die vier aanhangig gemaak word. Hulle verskyn na verwagting Maandag in die Piet Retief-landdroshof.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Dis nie Bampeon nie maar Pampeon
Wat verwag n mense
Vreedsame betoging? Dis n eerste……
Vreedsame betoging? Ek twyfel egter of hulle regtig vreedsaam kan betoog…
Maar die boere het geen regte nie ? Voetsek weg .