Vier vas vir moord op Charl Kinnear

Lt.kol. Charl Kinnear (Foto: Facebook)

Vier verdagtes is Donderdagmiddag in Century City, Kaapstad, in hegtenis geneem in verband met die moord op lt.kol. Charl Kinnear en die mislukte huurmoordpoging op die prokureur William Booth.

Die verdagtes, tussen 29 en 49 jaar oud, word ook met sake van bendeverwante afpersing, ontvoering en intimidasie-voorvalle in die Milnerton-gebied verbind, het kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, gesê. Die inhegtenisnemings is deur die nasionale taakspan gedoen.

“Die span het die verdagtes in Century City opgemerk en toe hulle die verdagtes probeer voorkeer het hulle weggejaag en een van die lede amper raakgery. ʼn Hoëspoedjaagtog het gevolg en die verdagtes is naby Sableweg voorgekeer en in hegtenis geneem,” het Mogale gesê.

Twee voertuie, ʼn Mercedes-Benz en ʼn Toyota Hilux, is tydens die inhegtenisnemings deursoek. In die Mercedes is daar op twee ongelisensieerde vuurwapens afgekom en in die Hilux is daar op een ongelisensieerde vuurwapen beslag gelê.

Genl. Bheki Cele het die ondersoekspan geloof vir die “deurbraak” in die saak. “Ons het nog altyd volgehou dat die moord op Kinnear geen lukrake daad was nie, maar ʼn koelbloedige daad wat deel van ʼn sameswering uitmaak en wat nou deur die werk van die polisie blootgelê word,” het die minister van polisie gesê. “Ons verwag ook dat nog inhegtenisnemings sal volg.”

Die vier verdagtes sal Maandag in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklag van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, afpersing en ontvoering.

Kinnear (52), bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, is op 18 September koelbloedig in sy motor voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet.

Zane Kilian (39) is ʼn week later in verband met die moord op Kinnear in hegtenis geneem. Buiten die moordklag staan hy ook tereg op ʼn aanklag van bedrog en die onregmatige onderskep van kommunikasie nadat hy na bewering onregmatig en doelbewus inligting van Kinnear se selfone onderskep het.

Kilian is ook later verbind met die skietery op Booth. Hy het glo oor ʼn tydperk van ʼn jaar duisende nommers nagespoor, waaronder dié van Booth asook ander hoëprofiel persone.

Verskeie skote het op 9 April verlede jaar buite Booth se huis geklap. Sy voertuig is getref, maar Booth is nie in die aanval beseer nie.

Kauthar Brown, Ebrahim Deare en Riyaad Gesant het skuld beken in verband met die aanval op Booth en is Maandag gevonnis. Brown (36) is tot drie jaar huisarres gevonnis en Deare (37) is tot effektief tien jaar tronkstraf gevonnis. Gesant (33) is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Kilian word afsonderlik verhoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Misky ·

Ek ook dadelik opgemerk en sin twee keer gelees en dink ek lees verkeerd. Belaglik!!!!!

Thom ·

Sê regter Misky , sonder enige kennis van die omstandighede .

Francois Le Cochon ·

Die 3 wat reeds gevonnis is het pleitooreenkomste aangegaan, daarom die “ligte” vonisse. Dit is heel moontlik dat die bendebaas, Modack, en die nuutste inhegtenisnemings is agv inligting verskaf deur die 3 wat reeds gevonnis is.

Anoniem ·

Uiteindelik is die groot vis Modack gevang. Hy het te lank met te veel weggekom, dit was net ‘n kwessie van tyd.

petro ·

my kind is al elf jaar terug vermoor omdat hy gekrap het waar hulle nie wou gehad hy moet krap nie hy was nog van die enkele goeie polisiemanne en tot op datum het Cele se gespuis nog geen terugvoering vir my as sy ma gegee nie

Anoniem ·

Baie jammer om van jou verlies te hoor, maar ek glo nie jy kan veel van die SAPD verwag nie, hulle “cover up” vir mekaar, veral vir diegene wat by misdaad betrokke is. Ongelukkig het die SAPD ons versaak.

Persheks Adri ·

Belaglike vonnisse regverdig nie moord of poging tot moord nie! Wonder wat sê hoedeman mmmmmmmmm

oelof ·

Mnr. Cele jy het die Kinnear familie belowe dat die polisie beamptes wat verantwoordelik was om die beskerming van die Kolonel op te skort aan die pen sal ry. Nog niks het van die belofte gekom nie.

Anoniem ·

Daar sal waarskynlik ook niks van kom nie, die misdaad binne die SAPD is te diep gewortel.

Hennie J ·

Lyk asof die groot visse nou eindelik aan die pen gaan ry. Killian is nog altyd net die scapegoat.

Jakes ·

Moorde word in SA gepleeg asof dit net nog n werk is met goeie betaling. Hierdie gewetenlose bendelede sal dalk tronk toe gaan maar selfs daar voer hulle n skrikbewind.

antieke antie ·

Hoe word potesieele moordenaars uitgeken. Dit verstaan ek nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.