Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, het gesê die vier Mosambiekers, tussen 23 en 36 jaar oud, sal na verwagting Maandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn. “Hierdie beweerde hartelose en sinnelose misdadigers word verdink van meer as 30 ernstige misdade, insluitend huisbrake, gewapende rooftogte en moord,” het Mohlala gesê.
Bowers en sy vrou, Renate Wagner, het die aand van 13 Januarie in hul huis in die Bundu Wildlife-landgoed naby Witrivier geslaap toe hulle omstreeks 23:30 ʼn venster hoor breek het. Die aanvallers het Bowers glo met pepersproei gespuit voor hulle hom geskiet het. Die moordenaars het met ʼn televisiestel en selfone gevlug wat later deur die polisie teruggevind is.
Die verdagtes word ook verbind met ʼn voorval verlede jaar waar ʼn gesin in die Botaniese Tuine aangeval is. Die gesin is deur ʼn groep gewapende mans oorval en van hul besittings beroof. “Dit het aan die lig gekom dat die verdagtes hulself deur die dag as smouse in die strate van Nelspruit voorgedoen het en in die aand hul soos hooligans gedra het,” het Mohlala gesê.