Vier vas vir Nelspruit-moord en string ander misdade

Clive Bowers. Foto: Facebook

Clive Bowers. Foto: Facebook

Vier mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op Clive Bowers (60) en ʼn string ander misdade in Nelspruit, Mpumalanga.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, het gesê die vier Mosambiekers, tussen 23 en 36 jaar oud, sal na verwagting Maandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn. “Hierdie beweerde hartelose en sinnelose misdadigers word verdink van meer as 30 ernstige misdade, insluitend huisbrake, gewapende rooftogte en moord,” het Mohlala gesê.

Bowers en sy vrou, Renate Wagner, het die aand van 13 Januarie in hul huis in die Bundu Wildlife-landgoed naby Witrivier geslaap toe hulle omstreeks 23:30 ʼn venster hoor breek het. Die aanvallers het Bowers glo met pepersproei gespuit voor hulle hom geskiet het. Die moordenaars het met ʼn televisiestel en selfone gevlug wat later deur die polisie teruggevind is.

Die verdagtes word ook verbind met ʼn voorval verlede jaar waar ʼn gesin in die Botaniese Tuine aangeval is. Die gesin is deur ʼn groep gewapende mans oorval en van hul besittings beroof. “Dit het aan die lig gekom dat die verdagtes hulself deur die dag as smouse in die strate van Nelspruit voorgedoen het en in die aand hul soos hooligans gedra het,” het Mohlala gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.