Vier vas vir taksmisdade

images (5)Vier mense, insluitend ʼn staatsamptenaar wat homself glo as ʼn beampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) voorgedoen het, is in hegtenis geneem vir beweerde misbruik van die belastingstelsel.

Marika Muller, woordvoerder van die SAID, sê die vier is verlede maand in afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem. Muller sê die staatsamptenaar het glo aan ʼn sakeman in Johannesburg gesê hy skuld die SAID geld en gedreig om hom in hegtenis te neem indien hy dit nie betaal nie. “Die sakeman het die SAID gekontak en die staatsamptenaar is tydens ʼn lokval in hegtenis geneem.” Muller sê in ʼn voorval in Mmabatho in Noordwes is ʼn man in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn beampte van die SAID probeer omkoop het nadat daar op sy motor beslag gelê is. Daar is vervalste goedere in die motor gevind. “Die verdagte het die beampte R6000 aangebied en is in hegtenis geneem nadat hy R4400 oorhandig het.” In ʼn ander saak het Sonja Galant in die Bellville-streekshof skuldig gepleit op 462 aanklagte van bedrog en belastingontduiking. ʼn Johannesburgse vrou is intussen ook in hegtenis geneem nadat sy glo bedrieglike eise by die SAID ingedien het. Sy moes ʼn terugbetaling van R11 593 ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.