Vier vermeende ontvoerders is Vrydag in Madadeni naby Newcastle in KwaZulu-Natal vasgetrek nadat hulle glo ʼn 18-jarige jong man ontvoer en ʼn losprys geëis het.
Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die jong man is vroeër die dag uit sy ouerhuis ontvoer. Die ontvoerders het met sy pa kontak gemaak en ʼn losprys geëis voordat hulle sy seun sou vrylaat. Die pa het die saak by die Newcastle-polisiestasie aanhangig gemaak en daar is onmiddellik ondersoek ingestel.
“Die polisie se vasbeslotenheid om die slagoffer te vind het uiteindelik tot die inhegtenisneming van die verdagtes gelei,” het Gwala gesê. “Twee van die verdagtes is vasgetrek daar waar hulle die seun gyselaar gehou het, terwyl die ander twee by ʼn kitsbank in hegtenis geneem is toe hulle probeer het om die geld te trek van die losprys wat hulle geëis het.”
Sy het gesê die slagoffer is gered en sy ouers het hom na ʼn hospitaal geneem om ondersoek te word.
Die verdagtes sal binnekort in die Newcastle-landdroshof verskyn.
Mooi so polisie!
Goed gedoen Newcastle SAPD.