Vier vas wat glo leeupote wil smous

Die leeupote waarop beslag gelê is. (Foto: SA Polisie)

Lede van die Valke het vir die soveelste keer die afgelope paar maande toegeslaan op verdagtes wat leeubeendere probeer smous.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, het gesê vier verdagtes is in die jongste voorval in Rustenburg, Noordwes, aangekeer.

“Ons het inligting gekry oor die verdagtes wat glo op soek was na ʼn koper vir vier leeupote. Die daaropvolgende ondersoek het tot ʼn klopjag gelei waar die verdagtes die pote aan ʼn beampte, wat hom as ʼn koper voorgedoen het, vir R300 000 probeer verkoop het.”

Rikhotso het gesê die vier is in hegtenis geneem en sal na verwagting Woensdag in die landdroshof op Rustenburg verskyn. Hulle word aangekla van oortredings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit (Nemba).

Maroela Media het verlede week berig agt leeus is verlede week by ʼn gewese lodge en dieretuin buite Rustenburg vir hul liggaamsdele gestroop. Daar is vermoed dat die diere vir moetie-doeleindes doodgemaak is. Die boosdoeners het eers oor die muur van sowat 2,4 m hoog reg rondom die kamp geklim voordat hulle die slotte van die kamp se hekke geknip het.

In November is vyf leeus ook op ʼn plaas in die Northam-gebied vergifting en vermink. Van die leeus is onthoof en ander se pote is afgesny en hul tande verwyder. Die leeus is vermoedelik hoendervleis gevoer wat met gif bestrooi was. Die verdagtes het die heiningdraad geknip om toegang tot die plaas te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem ·

Gaan iemand daaraan dink om ‘n DNA toets te doen om ‘n verbintenis te verkry na die geslagte leeus?

cHANTELLE ·

Mense kan die liefdevolste wees-net gekyk na hoe hul diere in nood help
maar die nood is soms mensdom se nalatigheid DAAR IS MAAR MIN WAT MY SO KWAAD MAAK AS DIE WAT GEEN HART HET TEENOOR HUL MEDEMENS EN SO OOK DIERE

toy ·

Hulle moet ‘n vonnis opgele word, wat ander laat 2 keer dink voor hulle dit doen aan enige dier.

Tinus Coetzee ·

Ek will net graag een punt uitlig wat moontlik misgekyk word. Ek het van ‘n baie betroubare bron verneem dat die kanse baie gering is dat die motief was om “muti” te vervaardig. Sou dit die doel wees sou die sterte en die mannetjie se testikels, asook moontlik die harte weg gewees het.
Daar is ‘n groot mark met genoeg geld vir pote en kake in China.
Geen toordokter sal R300 000 betaal vir 4 pote nie.

Andrea van Vuren ·

Taiwan stuur hul vroue Suid-Afrika toe om leeu-bene te oes. Hulle kry dit veral by ‘geblikte’ leeus. Hulle maal dit fyn en verpak dit tussen hulle bagasie. Ek weet van vroue wat skatryk is en dit gebeur onder ons oë!

Zandrie ·

Alle inligting nie korrek nie dis CIG Noord Wes wat die sukses behaal het en nie die Valke nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.