Vier vas wat glo miljoene by Sasol steel

Vier verdagtes, onder wie twee maatskappydirekteure, het Woensdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie, bedrog en rampokkery.

Dít nadat hulle glo nagemaakte bankwaarborge gebruik het om meer as R200 miljoen se brandstof te steel.

Pragasen Reddy (40), Siviwe Mafanya (55), Sibusiso Khumalo (48) en Douglas Rikhotso (41) is Woensdag deur lede van die Valke in hegtenis geneem en dadelik hof toe geneem, waar hulle elk op borgtog van R15 000 vrygelaat is. Hulle moes ook hul paspoorte oorhandig.

ʼn Lasbrief vir die inhegtenisneming van nóg twee verdagtes is uitgereik, maar kon nie aan hulle beteken word nie omdat die een in kwarantyn is weens Covid-19 en die ander een in Kaapstad woon. Wetstoepassers doen egter reeds stappe om te verseker dat dié verdagtes so vinnig moontlik in die hof verskyn.

“Daar word beweer dat ʼn voormalige bestuurder van die FNB-tak in Hyde Park tussen Januarie en Junie 2011 waarborge ten gunste van Lavela Petroleum Pty Ltd en Imvuselelo Petroleum and Gas uitgereik het om hulle kredietfasiliteite te verhoog, ten einde brandstof by Sasol te koop,” sê brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke. “Die betrokke bankbestuurder het egter nie die nodige magtiging gehad om waarborge namens die bank uit te reik nie.”

Luidens die Valke se ondersoek het die bankbestuurder omkoopgeld hiervoor ontvang.

“Toe FNB besef die waarborge is vervals, het die bank gevolglik geweier om R279 miljoen vir die aankoop van die brandstof aan Sasol oor te betaal,” sê Mulaudzi.

Drie klagte van rampokkery, agt van bedrog en twee van korrupsie staar die verdagtes nou in die gesig. Hulle moet weer op 1 Oktober in die hof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Rampokkers soos die behoort die doodstraf(as moontlik of ‘n strafkamp) opgele te word..Dis ‘n vorm van hoogverraad

PieterP ·

Jammer dat sulke skelms so lank wegkom met hulle streke. Vir SASOL self voel ek niks en gebruik nie hulle olie of brandstof nie. Hulle het mos besluit dat blankes nie aandele mag kry nie. Moes hulle harder geslaan het.

Cherokee ·

Dit word vertel dat Sasol met ander petrolprodukte vermeng word om die hoë koste van ingevoerde brandstof met die van Sasol te balanseer. Dit klink na die waarheid want anders moes Sasol baie goedkoper wees (en sou alle SA’ers slegs Sasol gebruik het), en indien wel waar, gebruik jy wel Sasol ook.

Johannes Andries ·

Ja nee dit is Mos nou die vrugte van regstellende aksie wat gepluk word. Hoop Sasol Leer hier uit iets!

Riaan ·

Ongelooflik hoe vinnig die gestelery in Suid-Afrika die MILJOEN kerf bereik het. Mens lees amper nie eers meer van bedrae in die DUISENDE nie, met die enigste uitsondering as dit kom by sekere ANC kaders, dan praat ons van BILJOEN

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.