Vier verdrink, drie verdwyn in die see op Nuwejaarsdag

NSRI Port Elizabeth Eikos IV Foto: NSRI

NSRI Port Elizabeth Eikos IV Foto: NSRI

Minstens vier persone is dood en drie persone word steeds vermis in verskillende voorvalle op Nuwejaarsdag op strande landswyd, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

Clifton:

ʼn 10-jarige seun van Gugulethu in Kaapstad word steeds vermis nadat hy omstreeks 13:00 tussen Clifton se eerste en tweede strand in die see verdwyn het. ʼn Omvattende lug-, see- en kussoektog het nog nie enigiets opgelewer nie. Die polisie se duik-eenheid is steeds besig met die soektog. Die polisie stel ondersoek in en die ouers van die vermiste kind word deur traumaberaders bygestaan.

Port Alfred

ʼn 17-jarige tiener van Grahamstad is omstreeks 13:30 op West Beach in Port Alfred dood verklaar nadat hy in die see in die moeilikheid beland het. Omstanders het hom uit die water gehaal en reeds met KPR begin toe paramedici by die toneel opgedaag het. Alle pogings om sy lewe te red was egter tevergeefs. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Richardsbaai

ʼn Bejaarde man is in die Bay Hall-gebied in Richardsbaai dood verklaar en ʼn agtjarige seun en 12-jarige dogter is gered toe NSRI Richardsbaai omstreeks 14:15 tydens roetinepatrollie op die toneel afgekom het. Die drie persone, al drie plaaslike inwoners, het in die water verdwyn. Die polisieduikers het die bejaarde man se liggaam uit die water gehaal en hy is op die toneel dood verklaar. NSRI se reddingswemmers het die twee kinders uit die water gehaal. Die seun se hart het spontaan weer begin klop tydens KPR en hy is in ʼn stabiele, maar ernstige toestand na die hospitaal geneem. Die 12-jarige dogter is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal geneem terwyl KPR in die ambulans voortgesit is.

Port Elizabeth:

ʼn 14-jarige seun van Port Elizabeth word steeds vermis nadat hy omstreeks 15:15 by Smelly Creek in die water verdwyn het. Roland Luitjies, ʼn veiligheidsbeampte van die nasionale hawe-owerheid was op roetinepatrollie toe hy gesien het die kind is in die moeilikheid. Hy het probeer om die kind te red, maar het in die golwe sy greep op die kind verloor. ʼn Omvattende soektog het nog nie enigiets opgelewer nie. Die polisie stel ondersoek in en staan die gesin by.

Milnerton-strandmeer

NSRI Bakoven, NSRI Tafelbaai, Kaapstad se brand- en reddingsdiens en die polisie se duikeenheid is omstreeks 15:28 ontbied na ʼn toneel by Milnerton-strandmeer om die Milnerton-lewensredders en Wes-Kaapse departement van gesondheid se paramedici by te staan nadat drie persone in die see in die moeilikheid beland het.

Lewensredders het twee persone uit die water gehaal en hulle het nie beserings opgedoen nie.

ʼn 18-jarige seun was egter nog vermis en die Skymed-helikopter het by die soektog aangesluit. ʼn Liggaam is gevind en polisieduikers het die liggaam uit die water gehaal. Dit is toe ontdek dat dit eintlik ʼn 26-jarige man van Delft is wat nie as vermis aangemeld is nie. Die man se vriende het nie opgelet dat hy verdwyn het nie.

Die soektog na die vermiste 18-jarige duur voort.

Rooi Els:

ʼn 31-jarige man van Eersterivier is op die toneel dood verklaar nadat hy omstreeks 18:40 by Rooi Els verdrink het. NSRI Gordonsbaai en NSRI Hermanus, as ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens en paramedici van die Wes-Kaapse departement van gesondheid het op die oproep reageer. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.