Vier vermeende stropers in Kaapstad vas

Die olifanttande was in die kattebak versteek. (Foto: Verskaf)

Twee mense is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat nadat hulle Maandag in die landdroshof in Bellville verskyn het op aanklagte wat verband hou met vier olifanttande wat in hul voertuig se kattebak gekry is.

Glen Baadjies (45) en Tanyan Jameza Gradwell (39) is Donderdag in Plattekloof aangekeer nadat lede van die blitspatrollie onraad vermoed en hulle voorgekeer het, het kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, gesê.

Vier olifanttande was in die kattebak versteek.

“Daar is op die voertuig en die olifanttande vir verdere ondersoek beslag gelê,” het Nkwalase gesê.

Hulle word aangekla van die onwettige besit van ivoor ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit (Nemba). Die saak teen hulle is uitgestel tot 4 September vir verdere ondersoek.

Die ietermagogskubbe waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: Verskaf)

In ʼn onverwante voorval het Nkosikhona Ndebele (27) en Mphumelelo Keya (28) in die Muizenberg-landdroshof verskyn vir die onwettige besit van ietermagogskubbe.

Die twee is Woensdag by ʼn eetplek in ʼn winkelsentrum in Muizenberg in hegtenis geneem in ʼn gesamentlike operasie tussen die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad en die blitspatrollie, het Nkwalase gesê

Keya is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Ndebele bly agter tralies terwyl sy besonderhede nagegaan word. Die saak teen hulle word Vrydag hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stiks ·

Sulke mense moet die swaarste straf moontlik kry. Wie is hulle kopers????

Gaitsigubib ·

Skiet n mens wettig n leeu of witrenoster wat hoegenaamd nie bedreig en wat in elk geval nie lank leef nie (leeu) wil almal naar word, maar die baie bedreigde itermago wat uitgewis word vir muti is okay? As ek na die een kommentaar kyk kan ek sien dat wettige jag vir mense n problem is maar die uitwissing van diere skeel hulle eintlik niks.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.